5 Mei 2023
Rahul and Lorette – Nuusbrief 1/2023
Liewe Vriende,
Ons is so dankbaar vir julle! Baie dankie dat julle saam met ons in gebed staan en die Here vertrou vir wonderlike dinge in 2023 – tot eer van sy Naam!
Ons het ‘n lekker besige eerste kwartaal van die jaar agter die rug. Priyanka en Nadia het ‘n “trial exam” in Februarie geskryf en is besig om voor te berei vir die finale eksamens wat Mei sal begin. Beide Priyanka en Nadia woon nou by Lorette en ons sien uit na Rahul se kuier by ons vir die vakansie.
Rahul en ons personeel werk hard, hetsy by die Wassery of wanneer hulle ons kinders ontmoet. Hy is ook betrokke by twee ander bedieninge van medewerkers in ons stad. Hy help met besluitneming, besigheids-strategië en ondersteuning waar en wanneer nodig.
Ons was baie opgewonde nadat Rahul in Januarie positiewe gesprekke met die skoolhoof van die skooltjie waar ons hoop om klaskamers te huur, gehad het. Hy kon ook weer met die dame gesels wat direk langs die skool woon. Sy het ingestem om ‘n klein area in haar erf aan ons te verhuur sodat ons ‘n kombuis, badkamer en klaskamer kan inrig. Ongelukkig het beide van hulle weer eens dinge “op ys” gesit net toe Rahul en ons personeel begin reëlings tref om met die werk te begin. Ons weet dat die toename in teistering van Christene ‘n rol speel, en dat mense dus dikwels bang is vir “ongewenste aandag”. Ons is teleurgesteld en sal so graag ‘n permanente plek wil bekom waar ons daagliks, soos in die verlede, met ons kinders kan bymekaar kom.
Vir nou kan ons twee middae per week die skool gebruik en ons is dankbaar daarvoor. Ons het die voorreg om die wonderlike nuus van verlossing met ons kinders te deel en ons kan op soveel maniere in hulle lewens inspreek. God is goed en ons gaan voort om Hom vir ‘n oplossing te vertrou! Mense het al gevra hoekom ons nie in ‘n ander deel van die stad vir ‘n plek soek nie. Ongelukkig sal dit beteken dat ons nie langer die kinders na wie ons nou uitreik sal kan bereik nie – en daarom ons het ons nie vrede daaroor nie. Ons (en party van hierdie kinders/jongmense) het jare belê in die wonderlike verhoudings wat gebou is. Die kinders van ons eerste kinders is al amper groot genoeg om op hul eie in te skakel. Ons vertrou ons wonderwerk wag vir ons in hierdie area, naby die stasie en die slumgebiede waar ons mensies woon. Dit is hierheen waarheen die Here ons baie spesifiek gelei het toe ons 23 jaar gelede in Varanasi aangekom het! Bid asb steeds saam met ons…
Baie dankie weer eens vir julle gebede en ondersteuning. Ons waardeer dit!
Met al ons liefde,
Rahul, Lorette, Priyanka en Nadia