27 Augustus 2021

Soos verlede week beloof, vertel ek van vandag af ‘n bietjie meer van al die terreine  wat vanuit die GBO fonds finansieel deur De Eike ondersteun word.

Die GBO projek is geskoei op Jesus se opdrag aan ons in Hand 1:8 – “julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Al die terreine is verdeel tussen Jerusalem (naby ons), Judea (bietjie verder weg). Samaria (nog verder) en uithoeke (baie ver van hier).

Vandag kyk ons na Jerusalem en die volgende instansies is deel daarvan:

  • Huis De Kuilen
  • Kos-vir-skole
  • Aksie Samaritaan
  • Kuilsrivier SAPD-speurafdeling

 

Huis de Kuilen

Die bestuurder, Riaan Coetzer, vertel soos volg:

“Huis de Kuilen is die tehuis vol omgee. Met geen subsidie verhoging en lewens- kostes wat bo gemiddeld styg, lyk die finansiële toekoms bleek vir ons ouer persone.  ‘n Nuwe formaat Basaar (Buitelug fees), “Trail run”,  maandelikse worsbroodjie verkope, inwoner markdae en vele ander inisiatiewe maak darem ‘n paar noodsaaklike gate toe, MAAR ons kan nie alle behoeftes aanspreek sonder jou hulp nie. Ons ouer persone benodig die gemeenskap se betrokkenheid en finansiële ondersteuning.”

 

Kos-vir-Skole

Kos-vir-Skole voorsien daagliks kospakkies aan behoeftige skoolkinders gedurende die skooljaar.  Kinders kry pap, broodjies, vars vrugte, sap en lekkergoed.  Kos-vir-Skole lewer ’n diens aan skole in die hele Wes-Kaap – ook in Kuilsrivier. Gaan kyk gerus op hul webwerf www.kos-vir-skole.com na die aangrypende video van hul werk.

 

Aksie Samaritaan

Verskeie  kerke in Kuilsrivier is betrokke by Aksie Samaritaan wat op weeksdae ’n sopkombuis vir armes en werkloses aanbied saam met ’n kort Bybel-boodskap.

’n Evangelis is aangestel om die Woord te verkondig aan die straatmense en berading te gee. Daar is saans gereelde uitreike na die haweloses in die dorp.

Sondae word ’n erediens en Sondagskool aangebied by die sopkombuis se perseel (naby die stasie). ’n Gekookte ete word verskaf aan die kerkbywoners.

Moedergemeente se pannekoekverkope elke Vrydag se winste word belê om die droom van ’n nagskuiling te befonds. Pannekoeke kan bestel word by 073 655 3816 – bestel teen Donderdag 17:00.

Aksie Samaritaan is geregistreer as ’n art. 18a organisasie. Skenkings aan hulle kan dus van belasting afgetrek word.

Gaan loer op hul Facebook blad na al die foto’s van hul werksaamhede.

 

Kuilsrivier SAPD-speurafdeling

Elke Woensdagoggend open ons bedieningspan die speurafdeling van Kuilsrivier Polisie se werksaamhede met Skriflesing,’n boodskap en gebed. Ons werk hier saam met ander gemeentes  in ons dorp.  Ons vat twee maal per jaar ook vir die speurders  iets te ete, en stel ook  Bybels beskikbaar.

Vanweë Covid inperkings is hierdie bediening tydelike gestaak. Sodra omstandighede dit toelaat sal dit weer hervat word.

 

Volgende week kyk ons na Judea.

Tot dan

Mariana

Kerkkantoor