3 September 2021
Hand 1:8 – “julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Vandag vertel ek bietjie meer van die terreine wat bydraes vanaf De Eike ontvang vanuit die GBO fonds wat ingedeel is by Judea en Samaria, naamlik:
- BADISA
- Green Park
- Huis Sonop
- Kalkfontein
- VGK Koelenhof
BADISA
BADISA Kuilsrivier is ‘n nie-winsgewende organisasie van die NGK en die VGK. BADISA help mense van alle rasse, geslagte, ouderdomme en gelowe met versorging, maatskaplike ontwikkeling en berading. BADISA bied ook bewusmakingsprojekte en ingryping aan t.o.v. maatskaplike probleme soos dwelmafhanklikheid, VIGS, armoede, kinderverwaarlosing, kindermishandeling, seksuele molestering, gestremdheid en gesinsgeweld. Maatskaplike werkers en gemeenskapsontwikkelaars se taak raak al groter terwyl hul finansiële bronne al verder krimp.
Gaan kyk gerus op hul webwerf www.badisa.org.za om meer van hul werksaamhede te wete te kom.
GREEN PARK
Elsabé Marais, ‘n lidmaat van De Eike, doen opheffingswerk in Green Park, ‘n informele nedersetting langs die R300-hoofweg. Vraghouers en ‘n houthuis is as klaskamers ingerig vir ‘n kleuterskool vir ± 50 kinders. Hierdie kleuterskool word bestuur deur vrouens uit die gemeenskap. ‘n Groentetuin voorsien voedsel aan die kinders.
HUIS SONOP
Huis Sonop is geleë op die gronde van Stikland Hospitaal. Hulle val onder CMHP (Community Mental Health and Psychiatry), ‘n organisasie sonder winsbejag. Die inwoners se ongeskiktheidstoelae word gebruik vir rekeninge vir water, elektrisiteit, voedsel, medies en vervoer na klinieke of hospitale.
Die ±60 inwoners kry 3 maaltye per dag, maar daar is nie fondse vir vrugte, vrugtesap of bederfies nie.
KALKFONTEIN
Ons buurgemeente VGK Sarepta het in Kalkfontein ‘n veeldoelige gemeenskapsentrum opgerig waar daardie deel van hul gemeente met verskeie aksies ondersteun word. De Eike het betrokke geraak om hierdie lofwaardige aksie te help met o.a. stoele vir die saal. Ons dra steeds maandeliks by om die lopende uitgawes te help dek.
VGK KOELENHOF
Ds. Desmond Meyer is leraar van dié gemeente van 1 500 lidmate. Die gemeente lê uitgestrek oor meer as 80 plase in Koelenhof en Bottelary en grens aan De Eike. Die lidmate is hoofsaaklik plaaswerkers. Vervoer, finansies en ’n te kort aan ander hulpmiddele is groot uitdagings, en tog is daar ’n groot groep toegewyde lidmate. Die lidmate word in die gemeente geleer dat hulle self ook ’n roeping het om die Here te dien buite die gemeentegrense. Hulle lê ook baie klem op hulle jeugbediening.
Volgende week kyk ons in die laaste aflewering na die terreine in die UITHOEKE VAN DIE WêRELD.
Tot dan
Mariana
nms Getuienisaksie Kommissie