10 September 2021

Hand 1:8 – “julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

 

Vandag kom ons by die laaste van die terreine wat bydraes vanaf De Eike ontvang vanuit die GBO fonds,  naamlik:

 

  • Mosambiek
  • Indië
  • FEBA Radio
  • Bibles for Believers

 

MOSAMBIEK – Handevat-projek

Ds. Danie Murray het die Handevat-projek op die been gebring – God se hart vir Afrika. Hierdie projek ondersteun  sendelinge, predikante en geestelike werkers in die kerk in Noord-Oos Mosambiek en skakel ook  met die ondersteuningsgemeentes in Suid-Afrika. Danie besoek Mosambiek 3-4 keer per jaar.  Dan besoek hy gemeentes, doen toerusting en aanmoediging en bou verdere verhoudings. Handevat maak Mosambiekers en Suid-Afrikaners bewus van hulle roeping vir Afrika en rus mense toe om mekaar se kultuur te verstaan.

 

Kliek hier vir Danie se jongste nuusbrief waarin hy vertel van ‘n onlangse besoek aan Mosambiek.

 

INDIË

Rahul en Lorette werk op die spoorwegstasie van Varanasi, Indië  onder die hawelose mense van die stad. Daar is ‘n sopkombuis wat die mense kos gee. Hulle het ook ‘n werkswinkel waar hulle veral jongmense vaardighede leer sodat hulle finansieel onafhanklik kan word.  ‘n Sorgsentrum vir kinders is op die been gebring, waar mediese dienste beskikbaar is. Tussendeur verkondig hulle die Woord van die Here en leef dit uit.  ‘n Wassery (Turning Point) wat hulle daar begin het skep verskeie werksgeleenthede en dien so die gemeenskap. Die gebou waarin dit was is verkoop, maar hulle bedryf dit tans vanaf ‘n ander perseel.

 

FEBA RADIO

FEBA (Far East Broadcasting Association) Radio SA reik per radio uit na onbereikte mense van die wêreld om hulle van God se liefde te vertel. Hulle behartig die volgende  Afrika-uitsaaiprojekte:

Franse programme word vanaf Ascension-eiland gestuur vir uitsending na Sentraal- en Noord-Afrika.

Aan die Yawo-volk in die suide van Malawi (grotendeels Moslems) word die Evangelie in hulle eie taal verkondig.

Klein gemeenskaps-radiostasies oor die hele Afrika maak programme om mense by te staan in hul nood rondom VIGS, armoede, werkloosheid, misdaad en geweld ens., alles vanuit die Bybel belig.

Gaan gerus na hul webwerf www.febaradio.co.za, kliek op “recent story” en lees getuienisse van oor die wêreld heen.

BIBLES FOR BELIEVERS

Bibles for Believers is ‘n organisasie wat probeer om miljoene Christene wêreldwyd wat nog nooit ‘n eie Bybel gehad het nie, van Bybels te voorsien. Hulle voorsien ook Studiebybels en opleidingsmateriaal aan gemeenteleiers in Afrika waar gemeentes geplant word.

Gaan lees gerus op hul webwerf www.harvestersministries.com meer oor die werk wat hulle doen.

 

Ek wil graag namens die Getuienisaksie kommissie en die kerkraad weereens vir almal wat bydra tot die GBO fonds, bedank.

Ons vra ook voorbidding vir al die aksies.

 

Mariana

nms Getuienisaksie Kommissie