26 Julie 2019
Liewe gebedsvriende
Op Sondag 21 Julie is parlementêre blitsverkiesings in die Oekraïne gehou. Hierdie verkiesings is vervroeg nadat die nuutverkose president Volodymyr Zelenskiy op 21 Mei 2019, tydens sy inhuldiging, die parlement ontbind het. Sonder die steun van die parlement sou die president nie daartoe in staat wees om enige hervormings in te stel of die kabinet, wat hy by voormalige president Petro Poroshenko geërf het, te verander nie.
Sedert die Oekraïne in 1991, met die ineenstorting van die Sowjet-Unie, onafhanklikheid verkry het, was hierdie resultate die hoogste verteenwoordiging van enige party in ’n parlementêre verkiesing. Dié oorweldigende meerderheid gee vir Zelenskiy die mag om die land se nuwe regering te vorm.
Zelenskiy het bewys dat hy daartoe verbind is om die beloftes wat hy tydens sy veldtog gemaak het na te kom deur baie veranderinge aan te bring in die kort tyd wat hy die amp beklee. Hierdie drastiese veranderinge is egter met ’n mate van teenstand en nagatiwiteit begroet.
Zelenskiy beplan nie net om korrupsie hok te slaan nie, hy het ook die oorlog in die Donbass-streek van die land ’n prioriteit gemaak. Op 18 Julie het Rusland, die Oekraïne en Europa se top sekuriteitsliggaam ’n wapenstilstand “van onbepaalde tydsduur” aangekondig. Ontleders beskou dit as ’n belangrike stap in die proses om die die vyfjaar-konflik te beëindiging (geen vorige wapenstilstand het gesamentlike pogings behels nie).
Bid asseblief saam met ons vir die Oekraïne, hul nuutverkose leier, sowel as hul parlementêre verteenwoordigers. Bid ook vir die versoening van gemeenskappe en dat die Kerk ’n effektiewe rol in hierdie proses sal speel.
“’n Ware leier in nie iemand wat soek na konsensus nie, maar eerder iemand wat konsensus tot stand bring.” (Martin Luther King, Jr.)
Saam in Sy diens
Gigi Kotzé en Donnelly McCleland