24 Januarie 2020

19 – 25 Jan

Togo:  Bid dat Gods Woord mense se harte sal bereik.  Bid vir die vertaling van die Ou Testament in Lama.  Wanneer dit voltooi is, sal Lamasprekers vir die eerste keer ‘n volledige Bybel in hul taal hê.  Bid ook vir die vertaling van die Bybel in Kabiye.

Benin:  Bid dat die bybelse boodskap ‘n toenemende getal mense sal bereik.  Bid dat die voltooiing van die Bybelvertaling in Gun glad sal verloop en dat dit sprekers van hierdie taal sal help om die Woord opnuut te ontdek.

Niger:  Bid dat die Woord in die land versprei sal word en dat die mense se Bybelbehoeftes aangespreek sal word.  Bid vir die Bybelgenootskap se werksaamhede en vir die personeel se veiligheid.

Nigerië:  Bid dat die Here vrede in die land sal herstel.  Bid dat ons Bybelvertalings die lewens van Nigeriërs sal verander.  Bid dat daar meer ondersteuning vir die Bybelsaak in ons land sal wees.  Bid dat ons programme mense sal help om nader aand die Woord van God te beweeg.

26 Jan – 1 Feb

Gaboen:  Bid dat die bybelse boodskap regoor die land sal versprei.  Bid vir die nuwe vertaling van die Bybel in Omyènè.  Die oorspronklike Bybelvertaling is reeds 90 jaar oud en ‘n nuwe vertaling is broodnodig.

Sahelprojek:  Dank die Here vir die Bybelwerk wat reeds gedoen is in hierdie oorwegend Moslem Afrikalande wat deel vorm van die Sahelgebied.  Bid vir Bybelwerk in Kaap Verde, Guinee-Bissau en Mauritanië.

Tsjad:  Dank die Here vir die werk wat reeds in hierdie land in Sentraal-Afrika gedoen is.  Bid dat die plaaslike Bybelgenootskap geleenthede sal kry om vir almal, veral jongmense en kinders, bybelse beginsels te leer.

2-8 Feb

Kameroen:  Bid dat Bybelwerk die harte van die mense in Kameroen sal aanraak.  Bid vir die verskillende werksaamhede van die Bybelgenootskap, spesifiek vir die vertaling van die Bybel in Guidar.  Bid ook vir Bybelwerk in Ekwatoriaal-Guinee.

Sentraal-Afrikaanse Republiek:  Bid vir mense wie se lewens omvergewerp is deur die burgeroorlog wat vir die laaste paar dekades hier gewoed het.  Bid vir vrede in die land en vir die ontwikkeling van die Bybelgenootskap.  Bid dat die herbouingsprojek van die Bybelgenootskap se hoofkantoor, wat in 2003 vernietig is, suksesvol sal wees.

São Tomé en Principe:  Dank die Here vir die werk wat reeds hier gedoen is.  Bid dat daar aan die Bybelbehoeftes van die Christene wat hier woon, voldoen sal word.

Suid-Soedan:  Daar is baie uitdagings wat die mense van hierdie land moet oorkom.  Bid vir vrede in die land en vir die konstruksie van die bybelsendinghuis.

9 – 15 Feb

Eritrea:  Bid dat, deur Gods Woord, Bybelgenootskapwerk baie mense in hierdie veeltalige land sal bereik.  Bid ook dat die Bybel beskikbaar sal wees in verskeie formate en vertalings om in behoeftes te voorsien.

Ethiopië:  Dank die Here vir wat ons in hierdie land kon bereik danksy die verspreiding van God se Woord.  Bid vir die Bybelgenootskap se projekte en dat dit meer mense nader aan die bybelse boodskap sal bring.

Soedan:  Soedan het baie uitdagings wat oorbrug moet word.  Bid vir die verskillende bevolkinsgroepe en dat daar in hulle Bybelbehoeftes voorsien sal word deur Bybelvertalings in hulle moedertaal, byvoorbeeld die vertaling vir die Otorosprekers.

16 – 22 Feb

Kongo (Brazzaville):  Bid dat ons deur ons Bybelwerk die mense se Bybelbehoeftes sal aanspreek.  Bid vir ons werk aan die verskillende vertalings, veral vir die volledige Bybel in Beembe.

Kongo (Demokratiese Republiek van):  Bid vir die Here se seën oor Bybelwerk in hierdie land.  Bid vir al ons vertalingsprojekte wat poog om die Bybel vir mense, soms vir die eerste keer, in hul hartstaal te gee.

Tanzanië:  Bid vir al ons Bybelgenootskapprojekte.  Bid vir die nodige fondse sodat ons vertalingsprojekte op skedule voltooi kan word.  Bid dat hierdie Bybels ‘n verskil in mense se lewens sal maak.