11 Maart 2021
28 Maart – 3 April
Peru: Bid vir die vertalingsprojekte van die volledige Bybel vir die sprekers van die Apurímac Quechua en Matsigenka tale. Bid ook dat ons Bybelstories in Peruaanse Gebaretaal beskikbaar kan maak aan verskeie instansies soos kerke en spesiale skole.
Brasilië: Loof God vir die projekte waarmee ons tans besig is en suksesse wat behaal is. Bid vir die oewergemeenskappe en dat ons bybelse bginsels wat waarlik lewens kan verander, by hulle kan inboesem. Bid ook vir ons werk onder siggestremdes.
4 – 10 April
Chili: Bid vir ons projek om met behulp van digitale formate Dowes te help om Jesus deur middel van die Evangelies in Chileense Gebaretaal te leer ken. Bid vir ons projek om die Ou Testament in Mapudungún te vertaal en die Woord van God in die hartstaal van die Mapuche mense bekend te stel.
Ecuador: Bid vir ons projek om 1 000 Bybels aan Christene beskikbaar te maak wat aan die Faith Comes By Hearing-projek deelneem, meeste van hulle het nie Bybels nie.
11 – 17 April
Uruguay: Bid steeds vir die vertaling van die Bybel in Gebaretaal wat dowe Christene toegang sal gee tot Bybelgedeeltes op DVD of geheuestokkie. Bid vir die New Horizons-projek, ‘n belangrike deel van die Bybelgenootskap se werk in ons land.
Argentinië: Bid vir ons projek Inclusive Publications wat daarop gemik is om kinders wat gestremd is op ‘n geskikte manier toegang tot die Woord te gee. Bid ook vir al die vertalingsprojekte waarmee ons tans besig is.
Bolivia: ‘n Groot gedeelte van die bevolking bestaan uit kinders tussen die ouderdomme van vyf en 12 jaar wat in arm omstandighede leef. Bid dat die projek, From the hand of Jesus, hulle sal bereik en leer hoe om met die Woord van God om te gaan deur middel van Bybelstories en geïllustreerde materiaal.
18 – 24 April
Venezuela: Ons is tans besig met die eerste vertaling van die Nuwe Testament in Pemon. Bid dat ons hierdie vertaling betyds sal voltooi. Bid ook vir die eerste vertaling van die Ou Testament en die hersiening van die Nuwe Testament in Uwottüja.
Paraguay: Die inheemse taal Guarani word deur sowat 90% van Paraguane gepraat. Bid vir die hersiening van die Guarani Bybel waaraan daar tans gewerk word en dat daar in die Bybelbehoeftes van hierdie mense voorsien sal word.
Colombia: Bid vir ons vertalingsprojekte, die Nasa Yuwe Nuwe Testament en die eerste vertaling van die Wayuunaiki Ou Testament. Bid dat hierdie mense God in hulle hartstaal sal hoor praat en die veranderende krag van sy Woord sal ervaar.
25 April – 1 Mei
Japan: Ons hoop om met die vertaling van die Bybel in Japannese Gebaretaal in die Bybelbehoeftes van die sowat 300 000 Japannese wat gehoorgestremd is, te voorsien. Bid dat hierdie vertaling wat spesifiek daarop gemik is om diegene wat hul gehoor op ‘n jong ouderdom verloor het, vrugte sal afwerp.
Suid-Korea: Bid dat die nuwe Koreaanse vertaling wat van digitale platforms gebruik maak, deur die mense verwelkom sal word.
Noord-Korea: Bid dat ondanks die enorme taak en groot uitdagings, Bybelwerk hier verrig sal kan word.
2 – 8 Mei
Singapoer: Bid vir al ons projekte, spesifiek die NextGen Ministries-projek wat poog om die Kerk in Singapoer toe te rus om die pad vir die nuwe generasie te baan. Bid dat dit hulle sal help groei in hul geloof en in hul toewyding tot die Woord.
China Vennootskap: Bid dat ons in die Bybelbehoeftes van die snelgroeiende getal Christene in China sal kan voorsien. Vals lering is ‘n groot probleem waarmee die Kerk in China sukkel weens ‘n gebrek aan Bybels. Bid vir die projek om onderwysers en kweekskoolstudente met die Woord van God toe te rus.
Mongolië: Bid dat die Mongoolse ‘Standard Version’ vertaling, wat ‘n taal gebruik wat meer natuurlik is vir moedertaalsprekers, maklik verstaanbaar sal wees vir beide lesers en luisteraars. Bid dat dit ‘n impak sal hê op die mense regoor die wêreld wat Mongools praat.
Nepal: Bid vir ons Bybelbetrokkenheidsprogramme en dat ons meer mense met die Bybel sal kan bereik.
9 – 15 Mei
Thailand: Bid vir ons doelwit om die Woord van God meer verstaanbaar te maak vir ‘n nuwe generasie Thaise mense. Bid dat ons meer vertalings vir veral jonger mense en mense wat nie kerk toe gaan nie, beskikbaar sal kan stel.
Maleisië: Bid dat meer mense in die land die boodskap van die Bybel sal leer ken en verstaan. Bykans die helfte van ons bevolking het nog nooit die voorreeg gehad om die Woord te ken nie.
Mianmar: Mianmar het ‘n behoefte aan Bybels vir die groeiende getal kerke wat ‘n verskeidenheid groepe in ons land bedien. Bid vir al ons vertalingsprojekte wat sal help om in die Bybelbehoeftes van ons mense te voorsien.
16 – 22 Mei
Laos: Bid vir die span wat die kerk en die mense van Mianmar bedien. Bid dat die Woord van God vertaal sal word in tale wat die mense sal verstaan en ook beskikbaar sal wees in die formate wat hulle benodig. Bid ook vir geletterdheidsonderrig vir die armes en minderheidsgroepe wat hulle in staat sal stel om die Bybel in Lao te lees.
Kambodja: Bid steeds vir die projek, Living Word for Everyone, en ons geletterdheidsprogram. Bid ook vir die hersiening van die Khmer ‘Standard Version’ Bybel waaraan daar steeds gewerk word.
Viëtnam: Bid vir Bybelwerk wat hier gedoen word veral vir ons digitale aanbiedinge. Bid dat ons die Bybel as ‘n app beskikbaar kan maak en deur die gebruik van verskillende video-illustrasies kan vesprei. Bid dat dit by mense sal aanklank vind en dat dit Bybelbetrokkenheid sal aanmoedig.
23 – 29 Mei
Swede: Bid dat die projek waarmee ons tienduisende kinders in skole bereik, vrugte sal afwerp. Bid ook vir ons pogings om ons eie mense asook immigrante met die Woord te bereik.
Noorweë: Bid vir Bybelgenootskapwerk in ons land en vir die verspreiding van Bybels en Bybelgedeeltes aan die kerke hier. Bid ook dat die boodskap van die Bybel ‘n aktiewe rol in die daaaglikse lewens van mense sal speel.
Finland: Bybelvertaling is van kardinale belang en ons werk tans aan ‘n projek wat die advisering, opleiding en gehaltebeheer van etlike vertalingsprojekte sal ondersteun. Bid vir wysheid vir almal wat betrokke is en bid ook vir ons projek wat geletterdheid onder vroue in Afrika help bevorder.
20 Mei – 5 Junie
Ysland: Bid dat die bybelse boodskap die harte van ons landsgenote, veral jongmense en kinders, sal aanraak. Dank die Heer vir die Bybelwerk wat reeds in hierdie land gedoen is.
Denemarke: Bid steeds vir die voltooide vertalingsprojek van die Bybel in hedendaagse Deens. Bid dat dit tot die harte sal spreek van diegene wat nie tradisionele kerkgangers is nie.
Faroëreilande: Bid vir die Bybelvertalingswerk wat hier plaasvind ondanks die uitdagings wat daar bestaan. Bid ook vir ons publikasieprojekte.
6 – 12 Junie
Spanje: Bid vir die Bybelvertaling in hierdie land, veral vir die minderheidsgroepe in Spanje. Bid ook vir die Bybelgenootskap se personeel.
Frankryk: Bid dat die ZeBible tot jong volwassenes sal spreek. Hierdie Bybel is spesifiek ontwerp om jonger Christene en sekulêre persone se aandag te trek. Bid ook vir ons pogings om tegnologie te gebruik om Bybelbetrokkenheid te bevorder.
Portugal: Die Almeida vertaling, die oudste Bybelvertaling in Portugees, is laas in 1898 hersien en kerke het ‘n versoek gerig vir ‘n opgedateerde weergawe. Bid vir ‘n nuwe vertaling wat in die behoeftes van die nuwe generasie Portugese regoor die diaspora sal voorsien.
13 – 19 Junie
Skotland: Bid dat ons kan voortgaan met ons passie om Bybels te voorsien, om mense te help lees en skryf en om die Woord van God te vertaal. Bid dat ons in staat sal wees om voort te gaan om projekte regoor die wêreld te ondersteun.
Republiek van Ierland: Dank die Here vir sy voorsiening en ook vir ons donateurs wat dit vir ons moontlik maak om projekte regoor die wêreld te befonds, veral in hierdie tyd van onrus. Bid dat mense se harte aangeraak sal word om die werk te ondersteun.
Noord-Ierland: Bid steeds vir ons Bybelgenootskap se personeel en dat hulle sal kan voortgaan met die projekte waaraan hulle tans werk. Dit sluit in vertalingswerk, asook geletterdheidsprogramme wat jong kinders help om by die Bybel betrokke te raak.
Engeland en Wallis: Bid dat ons poging om Bybelbewusmaking en –betrokkenheid te bevorder deur die International Bible Advocacy Centre susksesvol sal wees. Bid dat ons ons doelwitte sal bereik en meer mense met die Bybel sal bereik.
20 – 26 Junie
België (Vlaams): Bid vir die volgehoue ondersteuning van ons donateurs sodat ons kan voortgaan om Bybelgenootskappe in ander lande te ondersteun.
België (Frans): Dank die Here vir Bybelwerk wat ons hier kon verrig. Bid dat God die projekte wat beplan word om Franssprekende Belge te dien, sal seen.
Switserland: Dank die Here vir alles wat ons hier kon bereik. Bid vir ons personeel en Raad, dat hulle hul taak met die nodige wysheid sal verrig.
Nederland: Bid vir die aanpasbare Bybelplatform, Integrated Bible Engagement Platform, wat hier ontstaan het en ontwerp is om Bybelgenootskappe toe te rus om hul eie digitale strategieë in plek te stel.