22 Augustus 2019

Liewe gebedsvriende

Maandag 19 Augustus was veronderstel om ’n vreugdevolle dag vir Afganistan te wees, met die 100ste herdenking van onafhanklikheid van Brittanje. Daar was egter geen aptyt om fees te vier, ná Saterdagaand se wrede selfmoordbomaanval op ’n groot bruilof in Kaboel nie. Die Islamitiese Staat-groep (IS) het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar, wat die lewens van 63 mense geëis en meer as 180 ander beseer het, in ’n meerderheid Sjiïtiese Moslemgemeenskap. Die bruidegom wie se troue geteiken is, het in ’n onderhoud ná die dodelike aanval gesê: “Ek het hoop verloor. Ek het my broer verloor, ek het my vriende verloor, ek het my familie verloor. Ek sal nooit in my lewe weer gelukkig wees nie.”

Selfs voor Saterdag se tragedie, het baie Afgane die nut om onafhanklikheid te vier, bevraagteken in ’n tyd waarin die Taliban en die regering daarvan beskuldig word dat hulle aanvalle loods en operasies uitvoer, wat die lewens van groot getalle burgerlikes eis. Baie Afgane eggo die gevoel van hopeloosheid in ’n nasie wat blyk om nét oorlog te ken.

Afganistan is een van die mees onbereikte lande ter wêreld. Daar is na raming 48,000 moskees, maar nie ’n enkele kerkgebou nie. Die Sjiïtiese Hazara-minderheid, van Mongoolse afkoms, is oor die jare erg vervolg, selfs deur die Soenni-Taliban. Volgens Operation World het hulle die afgelope paar jaar groter openheid jeens die evangelie getoon.

Bid asseblief saam met ons vir Afganistan, dat baie mense, te midde van die eindelose geweld, Jesus, die Vredevors, mag teëkom.

“Dit is wat God se wil vir ons is: om Hom te loof in dankbaarheid vir Sy aard, wat nie boosaardigheid, skadelikeid of pyn beplan nie, maar Wie — in hierdie dinge — die enigste Een is wat in staat is om dit in liefde aan te spreek, in wysheid op te los, daarvoor in genade te voorsien en dit deur Sy krag te transformeer.” (Jack Hayford)

Saam in Sy diens

Donnelly McCleland