13 September 2019
Liewe gebedsvriende
Op 9 September het Bahamiaanse amptenare hul reaksie op orkaan Dorian verdedig nadat dit verlede week dele van die eilande verwoes het. Die regering is gekritiseer oor hul vertraagde reaksie op dié humanitêre krisis en inwoners van die Abaco-eilande het die regering daarvan beskuldig dat hulle versuim het om hulp te verleen en plundering te verhoed.
Orkaan Dorian het die eilande op 1 September bereik en as ’n kategorie 5-orkaan, die noorde van die Bahamas in puin gelê. Dit is glo die sterkste storm wat die Bahamas tot nog toe getref het. Die dodetal staan na raming reeds op 43, maar sal na verwagting styg aangesien honderde mense steeds vermis word.
Duisende huise is verwoes en ganse gemeenskappe is oorstroom. Op die Abaco-eilande is 90% van die infrastruktuur beskadig of vernietig. Daar is ’n tekort aan voedsel, water en medisyne en word dringend benodig. Volgens die Verenigde Nasies benodig 70,000 mense kos en skuiling. Tot op hede is ongeveer 3,500 mense ontruim en na die hoofstad, Nassau geneem.
Bid asseblief saam met ons vir die Bahamas.
“Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” (Filippense 2:4)
Saam in Sy diens
Gigi Kotzé en Donnelly McCleland