10 Oktober 2019
Liewe gebedsvriende
Irak se regering het op Sondag 6 Oktober aangekondig dat meer as 100 betogers en agt veiligheidsbeamptes dood is en meer as 6,000 beseer is in ses dae van landswye betogings. Betogers het geëis dat korrupsie, nepotisme en massawerkloosheid tot ’n einde moet kom en dat die voorsiening van basiese dienste moet verbeter. Die betogings het op 1 Oktober in Bagdad begin, maar het spoedig na ander Irakse stede versprei. Die veiligheidsmagte is daarvan beskuldig dat hulle gewelddadig op die betogings gereageer het, maar hulle het self ook lewensverliese tydens die skermutselinge gely. Die owerhede het “saboteurs” en ongeïdentifiseerde sluipskutters die skuld gegee dat hulle betogers geteiken het.
Die hoofsaaklik jong, manlike betogers het gesê dat hulle nie deur enige politieke of godsdienstige instansie gesteun word nie en dat hulle die kantore van ’n wye verskeidenheid politieke partye aangeval het. Regeringsamptenare berig dat meer as vyftig openbare geboue en agt politieke party-hoofkwartiere deur betogers aan die brand gesteek is. Volgens Time is “die onrus die ernstigste uitdaging wat Irak in die gesig staar, sedert hulle twee jaar gelede die militante van die Islamitiese Staat oorwin het. Die chaos kom ook op ’n kritieke tyd vir die regering, wat vasgevang is te midde van toenemende spanning in die streek tussen Amerika en Iran. Irak is verbonde aan albei lande en huisves duisende Amerikaanse troepe, sowel as sterk paramilitêre magte wat met Iran geassosieer is.” Irak se eerste minister, Adel Abdul Mahdi, se kabinet het ’n reeks hervormings aangekondig in reaksie op die eise van betogers. Die eerste minister het ook onderneem om die betogers te ontmoet, waar hulle ook al is, om hul eise te aan te hoor, sonder enige gewapende magte teenwoordig. Hy het ook besluit dat diegene wat tydens die betogings gedood is, hetsy betogers of veiligheidsmagte, as ‘martelare’ beskou sou word en in aanmerking kom vir staatsvoordeel.
Die Kerk in Irak is een van die oudstes ter wêreld, maar het die afgelope paar jaar onder geweldige druk verkeer. Die aartsbiskop van Irbil, eerwaarde Bashar Warda, het gewaarsku dat die Christene van Irak “ná 1,400 jaar van vervolging, uitwissing in die gesig staar”. Die Amerikaans geleide inval in Irak, wat die regime van Saddam Hussein in 2003 omvergewerp het, het ’n groot impak op die Kerk gehad. Sedertdien het die die Christelike gemeenskap met 83% gedaal, van ongeveer 1.5 miljoen tot nét 250,000. Die meeste van hulle het na ander lande gevlug, met minder as 10% wat teruggekeer het of beplan om terug te keer. ’n Gebrek aan sekuriteit en werksgeleenthede is die belangrikste redes wat gegee word hoekom hulle nie terugkeer nie. Bid asseblief saam met ons vir Irak.
“Soos wat vlerke vir ’n voël en seile vir ’n skip is, só is gebed vir die siel.” (Corrie ten Boom)
Saam in Sy diens
Donnelly McCleland