5 Februarie 2021
FEBRUARIE
31 Jan – 6 Feb
Suid-Soedan: Bid steeds vir vrede in ons land. Bid vir fondse om ‘n Bybelhuis te bou aangesien ons tans werk vanuit ‘n pakhuis wat in die vroeë 1970’s, voor die verdeling van die land, gebou is. Dank die Here vir die traumaberadingprojek wat vir baie mense van hulp is.
Sentraal-Afrikaanse Republiek: Soos met so baie lande in Afrika, is ongeletterdheid ook hier ‘n groot uitdaging wat mense in die gesig staar en ook ‘n impak het op die Bybelsaak. Dat materiaal in geskikte formate beskikbaar gemaak sal word om Bybelgeletterheid aan te spreek.
São Tomé en Principe: Bid vir die Portugeessprekende inwoners van hierdie land, waarvan meer as die helfte Katoliek is. Bid dat daar in hul Bybelbehoeftes voldoen sal word.
Kameroen: Bid vir die vertalingswerk wat hier gedoen word. Bid vir die vertaling van die Ou Testament in Guidar, asook vir die Podoko gemeenskap sodat hulle ook ‘n volledige Bybel in hulle eie taal kan hê. Bid ook vir Bybelwerk in Ekwatoriaal-Guinee.
7 – 13
Soedan: Bid vir die eerste volledige Bybel in Otoro. Slegs ‘n Nuwe Testament in Otoro is sedert 1966 beskikbaar. Bid ook vir nodige fondse sodat die vertaling van die eerste volledige bybels in Uduk en Koalib sal kan voortgaan.
Ethiopië: Bid steeds vir die voltooiing van die Amhariese Studiebybel. Hierdie Studiebybel is ontwikkel om moeilike terme wat in die Amhariese Bybel, wat vir die eerste keer in 1962 gepubliseer is, gebruik word te verduidelik en om die Woord van God meer verstaanbaar te maak.
Eritrea: Bid dat die plaaslike Bybelgenootskap sy taak effektief sal kan verrig en dat bybelse beginsels onder Eritreërs en veral die jeug, bevorder sal word.
14 – 20
Kongo (Brazzaville): Bid vir die voltooiing van die Beembe Bybel sodat die sowat 100 000 Christene in die land wat hierdie taal praat, die volledige Bybel vir die eerste keer in hul hartstaal sal kan lees.
Tanzanië: Bid vir al ons projekte, veral ons vertalingsprojekte sodat die mense van Oos-Afrika die Woord van God in hul taal kan lees.
Kongo (Demokratiese Republiek): Bid vir al ons vertalingsprojekte, veral vir die nuwe interkerklike Bybelvertaling in Lingala wat makliker verstaanbaar sal wees. Bid ook vir die nuwe kontemporêre vertaling van die Otetela Bybel.
21 – 27
Kenia: Dank die Heer vir al die werk wat ons sover in hierdie land kon doen. Bid vir ons projek wat daarop gemik is om Bybels aan skoolgaande siggestremde kinders te versprei. Dit is ook ‘n groep in ons land wat baie kwesbaar is.
Rwanda: Bid vir die oudioprojek wat gemik is op traumagenesing vir diegene wat steeds swaar dra aan die seer van die verlede. Bid dat God die leiers sal seën en dat daar in mense se Bybelbehoeftes voorsien sal word en dat dit met die genesingsproses sal help.
Uganda: Bid vir die opknappingswerk aan ons Bybelhuis en dat ons lede en donateurs dit sal bly ondersteun totdat dit voltooi is. Bid ook vir sukses van ons vertalingsprojekte en dat dit op skedule voltooi sal word.
Burundi: Dank die Here vir die verbeterde sekuriteit in ons land. Bid vir befondsing en vir die suksesvolle voltooiing van al ons projekte.