23 Februarie 2024

Ons gemeente en Burger-pastoriepaar gaan vanjaar, 2024, ‘n jaar van turbulensie

binne. Na meer as 32 jaar by Kuilsrivier De Eike tree Ds Hannes teen die middel van

die jaar af maar ons is so gelukkig om hom nog in diens te kan hê in ‘n kontrakpos tot

die einde van die jaar.

 

Vir die Burger egpaar is dit ‘n jaar waarin hulle vir die eerste keer hulle eie huis moet

soek en koop en almal weet dat dit ‘n spanningsvolle gebeurtenis kan wees.

Ons Kerkraad moet verder belangrike besluite neem om ‘n leraar in Ds Hannes se plek

te beroep. Besluite wat nou geneem word kan vir baie jare impakte hê op die

gemeente.

 

Om ‘n nuwe leraar te beroep, bring baie onsekerheid en vrae na vore waarvan

sommige sou kon wees;

  • oor hoe oud die ideale predikant moet wees,
  • moet die persoon fokus op jonger mense of meer senior burgers in ons

gemeente,

  • of dit ‘n man of vrou moet wees,
  • hoe moet ons die veranderende landskap van ons gemeente die beste bedien

met die verandering van ‘n leraar? Dit, en nog meer – is vrae waarop niemand

tans antwoorde het nie. Ons kan net bid vir wysheid van die Here af.

Al wat ons wel weet is dat ons predikant ‘n man of vrou van God moet wees. Die

persoon moet duidelik die vrugte van die Gees uitleef soos dit opgeteken is in Gal

5:22-23 naamlik liefde, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

nederigheid en selfbeheersing.

 

Kan ons dus vra dat alle groepe soos kleingroepe, Bybelstudiegroepe, die Kerkraad,

gesinne en individue tydens hulle gebede sal dink aan hierdie sake dat:

 

  • die Here vir Ds Hannes en Adri sal lei na die regte woonplek wat aan hulle

behoeftes sal voldoen en ook;

  • vir ons as Kerkraad om die regte besluite te maak binne die wil van God sodat

die regte predikant aangestel word wat voldoen aan die vrugte van die Gees.

 

Dink asseblief in jou gebede aan hierdie sake

 

Martin Oliver