24 Mei 2018
De Eike se Getuienisaksie Kommissie het in 2002 onder voorsitterskap van Johan Uys en met behulp van die Kingfisher Mobilisering Sentrum die Geloofbelofte-offer (GBO) fonds geloods. Die gedagte daarmee was dat dit die gemeente in staat moes stel om meer betrokke te raak by werk in die Here se koninkryk – iets wat ons kwalik binne ons gewone begroting kon doen.
Natuurlik was daar sommige van die kommissielede wat aanvanklik bang was dat bydraes tot die GBO fonds tot ‘n daling in dankofferbydraes gaan lei. Maar dit is heeltemal verkeerd bewys! Die teendeel het eerder gebeur: die dankofferbydraes het ook gestyg.
Dis wonderlik om te weet dat die reuse bedrag van R2 299 025 sedert November 2002 tot Februarie 2018 ingesamel is, en selfs nog beter om te weet dat ELKE SENT daarvan aan getuienisaksies wêreldwyd spandeer is. Dink net ‘n oomblik na hoeveel lewens daardeur geraak is. Daarby het die Here ons gedurende die afgelope 16 jaar gereeld verras met sy voorsienigheid. Elke keer as ons wonder waar die fondse vandaan gaan kom om ons verpligtinge na te kom, het De Eike se lidmate in opdrag van die Here voorsien.
2017/2018 was egter vir die kommissie ‘n besonder moeilike jaar en moes daar selfs by die kerkraad aangeklop word vir finansiële hulp, nadat ‘n subsidie van sinodale kant af vir een van ons projekte gestaak is. Sommetjies is gemaak en moeilike besluite moes geneem word.
Maar weereens is ons na die herloodsing vir die nuwe finansiële jaar op 25 Februarie 2018 aangenaam verras. Die maandelikse beloftes het van R15 907 tot R18 837 gestyg en daar is ook verskeie groot eenmalige bydraes ontvang. Ons betrokkenheid by die werk wat die Here op ons hart gedruk het kon voortgaan!
Baie, baie dankie aan elke De Eike lidmaat wat deel is van dié geseënde projek. Danksy julle volgehoue ondersteuning kon ons binne die eerste 2 maande van die nuwe finansiële jaar al ons verpligtinge nakom en selfs ‘n reserwe opbou. Daaruit kon ons byvoorbeeld verlede week die Kuilsrivier Jeugtrust help om een van die maatskaplike werkers by die skole na ‘n Kindertrauma konferensie te stuur. Daar gaan sy, met De Eike se hulp, waardevolle kennis opdoen wat weer in Kuilsrivier se kinders terug geploeg kan word.
Hou gerus die weeklikse e-nuus dop. Ons gaan gereeld vir julle inligting gee oor wat by die begunstigdes van De Eike se GBO fonds gebeur sodat julle kan sien dat julle ook deur jul bydraes ‘n verskil in die wêreld maak.
De Eike Getuienisaksie kommissie