5 Februarie 2021

Nora van der Merwe vertel vir ons hoe dit was om in hierdie moeilike tyd afskeid te neem:

  Met die lees van die nuusbrief het ek raakgelees dat die kerkgebou en dan die kerk op Sondae toe is, maar ek het in ‘n groot hartseertyd in my en my dogter se lewe dit verskriklik waardeer dat ons my man se troosdiens in die kerk kon hou. Al was die epidemie fel aan die toeneem, het ons die voorreg gehad om as ‘n handjievol mense troos te kry in die mooi atmosfeer van ons kerk. Mariana en Tim se liefde en deernis om ons te akkomodeer om die diens te kon hou, het regtig ons harte aangeraak. Om vir ‘n geliefde te groet op die mooi wyse en ondersteuning van hulle twee se kant af asook ds Chris en ds Johan se belangstelling het die swaar makliker gemaak. Geen moeite is ontsien nie. Die feit dat ons van ons kerk se kommunikasiemiddels kon gebruik maak om na familie wat nie kon kom agv die virus ook te laat deel in die geleentheid word innig waardeer en hoog op prys gestel. So is die woord van die Here letterik oor die wêreld uitgedra. Ja die kerk kan nie die normale eredienste te hou nie, maar die troosdienste is baie spesiale geleenthede en word dit hoog op prys gestel en waardeer. So op ‘n manier –  al is dit dan in hartseertye –  sal ons nooit die erediens en lof aan God vergeet nie. Baie dankie vir die liefde. Dit was ‘n voorreg om so vir Johan te eer en troos te kry vir die pad vorentoe saam met ons Here op ‘n besondere manier in ons kerk.

René Ferreira vertel van haar ervaring in hierdie tyd:

“Julle sal my vreugde onthou, verlede jaar einde November, toe ek die Lisensiaat-orreleksamen geslaag het.  Dit was regtig vir my ‘n absolute hoogtepunt.  Maar kort was die vreugde toe ek nét daarná ontdek het daar is ‘n gewas in my bors.  Elke moontlike toets is gedoen, oor en ná die Feestyd, en ek is toe verlede week geopereer.  Dit was gelukkig ‘n baie klein plekkie en elke toets van Pathcare wys dat alle kwaad verwyder is.  Ek deel dit met julle omdat ek in die teater ingegaan het met Ps 50:15 – 

Roep my aan in die dag van benoudheid:

Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”

Ek was deurentyd ontsettend bewus van die teenwoordigheid van ons Vader, die gebede van vriende en familie, die goeie versorging van verpleegpersoneel en dat alles net in plek val asof vooraf spesiaal vir my gereël.  Ek eer die Almagtige God van hemel en aarde dat Hy my raakgesien en uitgehelp het. Bly veilig!

René Ferreira

Orrelis