13 September 2019

Beste kollega

Die burgerlike samelewing, met inbegrip van geloofsgemeenskappe soos die NG Kerk, het die sosiaal-etiese verantwoordelikheid om hulle nie net te weerhou van enige vorm van haatspraak, stereotipering van enige groep en geweld teen enige persoon nie, maar ook om dit met oortuiging teen te staan.

Die NG Kerk wil haar om hierdie rede sterk uitspreek teen geweld van watter aard ook al.

Dit gaan hier oor die evangelie wat op die spel is. Die kerk spreek haar nie net uit oor geweld in die volgende twee verklarings nie, maar versoek ook optrede en diepe nadenke van haar lidmate ten opsigte van die uitdagings waarmee ons gekonfronteer word.

Verklaring 1: Die NG Kerk het die afgelope paar dae met hartseer kennis geneem van talle gevalle waar die kwesbaarste mense in ons samelewing, vroue, kinders en migrante uit buurlande, aan die uiterste vorme van geweld blootgestel is. Die vreemdelingehaat, die plundering van eiendom en die moord op immigrante in Suid-Afrika is slegs die mees onlangse voorbeelde van dreigemente teen mense wat ’n eenvoudige en universeel menslike soeke na ’n beter lewe vir hulle en hulle gesinne het en dikwels gedryf word om risiko’s te waag as gevolg van desperaatheid, konflik en onderdrukking in hulle lande van herkoms. Sien volledige verklaring onder.

Verklaring 2: Die NG Kerk is diep bewus van die kompleksiteit van misdaad en geweld in Suid-Afrika. Internasionaal is dit aan die toeneem en Suid-Afrika deel in hierdie tendens. In ons eie situasie vererger faktore soos armoede en werkloosheid die probleem. Begrip vir hierdie faktore beteken egter nie dat ons die omvang en intensiteit van misdaadvlakke wat ons tans sien wil regverdig nie. Sien volledige verklaring onder.

 

Vriendelike groete

Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk

 

 

PERSVERKLARING 1:

NG KERK SPREEK HOM UIT TEEN VREEMDELINGEHAAT

Die NG Kerk het die afgelope paar dae met hartseer kennis geneem van talle gevalle van hoe die kwesbaarste mense in ons samelewing; vroue, kinders en migrante uit buurlande, aan die uiterste vorm van geweld blootgestel is. Die vreemdelingehaat, plundering van eiendom en die moord op immigrante in Suid-Afrika, is slegs die mees onlangse illustrasies van dreigemente teen mense wat ‘n  eenvoudige en universele menslike soeke na ‘n beter lewe vir hulself en hul gesinne het en dikwels gedryf word om gevaarlike risiko’s te neem as gevolg van desperaatheid, konflik en onderdrukking in hul in hul lande van herkoms.

Suid Afrika beleef self in ‘n tyd van sosiale en ekonomiese spanning. In sulke tye is daar altyd ‘n gevaar  van ‘n “ons-hulle” polarisering en die blamering die ‘ander’ vir interne probleme. Geen omstandighede kan egter die vervolging en mishandeling van kwesbare mense, wat om verskillende redes uit hul eie lande verplaas is, regverdig nie.

Die Bybel bevat vele verhale van mense wat aan die beweeg is, vreemdelinge, immigrante of vlugtelinge. Jesus was ook ‘n vreemdeling, sonder ‘n huis, met nêrens om sy kop te lê nie. Hy vra dat sy dissipels vir vreemdelinge sal sorg. Die Skrif bevat duidelike leringe oor die verantwoordelikheid van gelowiges om gasvryheid aan vreemdelinge te betoon en om kwesbare mense, insluitend vreemdelinge, te beskerm. Die Bybel vra dat : “Wanneer daar ‘n vreemdeling by julle in julle land woon, mag julle hom nie onderdruk nie. Julle moet hom soos ‘n medeburger behandel en hom liefhê soos julleself. Julle was immers self ook vreemdelinge in Egipte. Ek is die Here julle God. (Levitikus 19: 33-34)

Die gewelddadige uitbarstings van vreemdelingehaat bedreig die sosiale struktuur van die Suid-Afrikaanse samelewing. Geweld en haat is ‘n vuur wat homself voed en die geweld teen vreemdelinge spoel reeds oor na burgers van Suid Afrika.

Xenofobie ondermyn ook die politieke en ekonomiese status van ons land en die relevansie en invloed van Suid-Afrika in die streek en die wêreld. Suid Afrika se toekomstige sosio-ekonomiese ontwikkeling hang af van ons vermoë om met ander Afrika-lande te skakel op ‘n manier wat eenheid en menswaardigheid bevorder.

Ons hoor reeds stemme wat van oor die kontinent opklink in veroordeling van wat aan die gebeur is.  Ons hoor van kunstenaars wat weier om na ons land te reis of teen die Suid-Afrikaanse sokkerspan deel te neem. Die Wêreld Ekonomiese Forum vir 2019 het op 4 September in  Kaapstad afgeskop met ‘n aantal leiers, waaronder Zambië, Malawi, DRK en Rwanda, wat aangekondig het dat hulle uit protes onttrek.

Die NG Kerk wil ‘n ernstige beroep doen op die Suid-Afrikaanse regering om leierskap te demonstreer, om die situasie onder beheer te bring en die nakoming van menseregte te bevorder en die standaarde en norme soos vervat in internasionale ooreenkomste vir menseregte te bevorder.

Die NG Kerk is in solidariteit met al die individue en hul gesinne wat geraak word, en doen ‘n beroep op hul beskerming, restitusie en die strafregtelike aanspreeklikheid van diegene wat verantwoordelik is vir die aanvalle op hulle.  Die NG Kerk ??is in solidariteit met ander Suid Afrikaanse kerke, en die oorgrote meerderheid van die mense van Suid-Afrika, wat hul verontwaardiging oor die gebeure in die openbaar uitgespreek het. Die NG Kerk ondersteun oproepe aan die regering om ‘die toenemende gety van rassisme, etnosentrisme en vreemdelingehaat in Suid-Afrika te konfronteer en vir Suid-Afrikaners om ‘ander’ te erken, om vreemdelinge te verwelkom, en om versoening te soek. Die NG Kerk doen ‘n ernstige beroep op die regering om behoorlike instromingsbeheer toe te pas en te voldoen aan internasionale standaarde vir grensbeheer.

 

PERSVERKLARING 2:

DIE NG KERK DRING AAN OP AKSIE TEN OPSIGTE VAN DIE KULTUUR VAN GEWELD  IN DIE SUID-AFRIKAANSE SAMELEWING

 

Die NG Kerk is diep bewus van die kompleksiteit van misdaad en geweld in Suid-Afrika. Internasionaal is dit aan die toeneem en Suid Afrika deel in hierdie tendens. In ons eie situasie vererger faktore soos armoede en werkloosheid die probleem.  Begrip vir hierdie faktore beteken egter nie dat ons die omvang en intensiteit van misdaadvlakke wat ons tans sien nie, wil regverdig nie.

Ons sien en ervaar die impak daarvan op passasiers wat op treine beroof en afgegooi word; polisielede wat vermoor word; ‘n kind wat vlak voor haar skool uit haar ma se hande geruk en ontvoer word, ‘n plaasboer en sy vrou wie se voete in kookwater gedruk en voetsole afgesny word; vragmotors wat aan die brand gesteek word, mense wat die afgelope weke sinloos en wreed vermoor is soos die student wat ‘n pakkie by die poskantoor gaan afhaal, gesins- en huishoudelike geweld waar ‘n pa sy kinders ophang, grootskaalse geweld teen vroue en kinders. Die spiraal van geweld lyk onomkeerbaar.

Geweld druis direk in teen die menswaardigheid van mense, asook die regte van mense soos dit neerslag vind in ons Grondwet. Die wese van ons demokrasie word ernstig bedreig. Vir ons as Christene kom die ganse boodskap van die Evangelie in gedrang.

Die drastiese toename in geweld en misdaad die afgelope tyd vra vir dringende aksie van die kerk en samewerking met ander rolspelers rondom die saak.  Terwyl ons waardering het vir wat gedoen word en begrip het vir die dilemmas waarmee die owerheid en wetstoepassers soms sit, hoor en sien ons nie ‘n sterk genoeg “nee” vir misdaad en geweld nie. Die houding van geen-toleransie teen enige vorm van misdaad, hoe groot of klein ookal is nie ferm genoeg nie.

Die kerk is bewus daarvan dat die owerheid nie op hul eie die hele probleem kan oplos nie. Die burgerlike samelewingsverbande, waarvan die kerk deel is, sal verantwoordelikheid vir eie gemeenskappe moet aanvaar.

As NG Kerk  wil ons onsself verbind om saam met ander kerke en instansies te werk aan die vorming van ‘n samelewing met duidelike en sterk morele en gemeenskapswaardes. Daarom glo ons dat ons nou:

  • Introspektief onsself moet af vra tot watter mate ons onbedoeld deur ons kerklike praktyke, aanames en gewoontes die huidige kultuur van geweld in stand hou.
  • Moet vra of die kerk se teologie van menswaardigheid genoegsaam ontwikkeld is en gepraktiseer word om patriargie teen te staan.
  • Saam met ander kerke strategieë moet bespreek en planne vir optrede moet beraam.
  • Saam met die ander kerke praat oor wyses hoe ons as gelowiges slagoffers kan ondersteun.
  • Saam met die owerhede – nasionaal en plaaslik – oor die saakgesprek moet voer. Saam dringend ‘n gesprek met die Minister van Veiligheid en Sekuriteit moet aanvra.
  • Ons gemeentes op plaaslike vlak moet vra om te besin oor strategië om die uitdagings van misdaad daar aan te spreek.
  • Almal moet oproep om ernstige voorbidding te doen vir ons land met die oog op vrede, geregtigheid en vooruitgang.