24 September 2020

Liewe Gemeente

Twee jaar gelede het ek weer begin les neem by me Marian Steyl met die oog op ‘n lisensiaat kerkorrel-eksamen.  ‘n Mens moet onthou dat sy bereid is om haar professionele naam aan jou prestasies te koppel (sy gee klas by die US ook) en daarom klim jy in met alles wat jy tot jou beskikking het.  Ek het by Trinity College in Londen geregistreer vir Meimaand vanjaar.  Toe kom die pandemie en ‘n lys nuwe instruksies volg.  Die uiteinde was dat ons op 25 Julie vanjaar ‘n video-opname moes laat maak om saam met al die ander dokumente wat hulle vereis, deur te stuur.  (Ek weet nie of ons almal die waarde van André Shaw van ons gemeente ken nie – hy het letterlik ure by ons huis gesit om die groot hoeveelheid data te orden en met ons stadige internetverbinding te probeer deurkry na Londen!  Op die ou end kon ek dit stuur met my dogter en skoonseun se topspoed-internet – dit was gróót spanning.)  Ek wag nog hoopvol op die uitslae.

Die NG Moederkerk in Brackenfell is vir my oneindig goed.  Ek het toestemming gekry om op hulle pyporrel te oefen én my eksamen daar af te lê.  Ek kan regtig net goed van daardie mense praat, hulle is die allerbeste. Daarmee saam, moét ek vir Tinus dankie sê wat my in élke faset ondersteun – hy is my pasmaat.

Vanuit die lisensiaat-voorbereiding het toe gevolg dat Marian gesê het ek moet inskryf vir die 2020 SAKOV-beurs.  Ook hiér was die engele weer rondom my:  Petrus Theron het die mooiste video van my spel kom neem, ‘n oud-leerder van Brackenfell, Linda Basson, het foto’s van my geneem wat ek met vrymoedigheid kon deurstuur en Brent Reynolds, my registrant van die US, het net eenvoudig dadelik ingestem en deurgery van Somerset-Wes af vir die opname.  Die Here was vir my só goed – ek het ‘n beurs ontvang.  Dis ‘n bietjie lank, maar hier is die skakel as jy graag wil kyk daarná.

Mag ons by De Eike hand opsteek vir die Here en met ons sang wys dat ons Hom eer.

Liefde

René Ferreira

Orrelis