28 Mei 2020
Die woordjie ”retraite” het die afgelope jare ‘n bekende woord in die kerk se woordeskat geword. Dit verwys na ‘n spesifieke tyd van afsondering waartydens jy die geleentheid het om net op die Here en sy Woord te fokus. Die eerste retraite wat ek bygewoon het, was in die laat 1980’s. Dit was ‘n geleentheid waartydens al die ringsleraars op ‘n kampterrein in Bettiesbaai vir ‘n naweek bymekaar gekom het. Met ons aankoms die Vrydagoggend is ons deur die kursusleier bymekaar geroep en die werkswyse van die naweek is aan ons verduidelik.
Elkeen is in ‘n enkelkamer. Alle boeke, tydskrifte, radio’s en bandspelers moes ingehandig word. Jy mag slegs jou Bybel by jou gehad het. Jy mag met niemand tydens die naweek praat nie. Met etenstye sou daar ‘n klok lui en dan moes ons eetsaal toe kom. Ook tydens die ete mag ons nie met mekaar gepraat het nie. As jy bv. die botter wou hê, moes jy met jou vinger na die botter wys! Daar was ‘n sielkundige tydens die naweek beskikbaar en enigiemand wat die behoefte gehad het, kon op afspraak na die sielkundige gaan. Aan die einde van elke dag sou daar ‘n terugvoer-sessie wees waartydens ons vir mekaar moes vertel hoe ons die dag beleef het.
“Julle kan maar gaan”, het die kursusleier gesê en elkeen van ons is na ons kamers. Ek het in my kamer op die bed gaan lê – ek het niks gehad om te doen nie! Geen leesstof, geen geselskap, geen koerant, geen radio en geen televisie om jou tyd mee te verwyl nie! Ek het aan die slaap geraak. Later was ek moeg geslaap en het op die kampterrein rond geloop. Die kampterrein grens aan die see, so ek het see toe gestap en op die rotse gaan sit. Hier en daar het ek van die ander ouens ook sien loop of êrens op ‘n rots sien sit en na die see staar.
Wat was die effek van hierdie “afsondering” op my? Dit is vir my(as predikant!) erg om dit te sê, maar dit is die waarheid: die enigste Persoon met wie jy kan praat, is die Here! Die enigste boek wat jy het om te lees, is die Bybel! Stadigaan begin jy loskom van jou besige gedagtes, jou verantwoordelikhede wat in jou kop maal en jou vol program waarheen jou gedagtes gedurig wil terug gaan. Jy word gestroop van al die baie dinge waarom jou lewe daagliks draai en jy kom te ruste by die Een wat eintlik die eerste aanspraak op jou lewe het! Jy begin op ‘n vlak met die Here “connect” wat jy nie in jou haastige en vol lewe regkry nie. Jy besef Hy is altyd daar vir jou, of dit in die middel van die nag is wanneer jy wakkerlê omdat jy “moeg” geslaap is en of dit is as jy teen die see loop of op die rotse sit en na die branders kyk. Die Here is daar, jy kan enige tyd met Hom praat, sy teenwoordigheid ervaar.
Jy lees ook meer Bybel! Jy neem sommer ‘n Bybelboek en lees hom van voor tot agter deur.
Dalk het jy ook iets van hierdie retraite-ervaring in grendeltyd beleef? Ons het tog meer tyd as andersins tot ons beskikking gehad. In my geval, my bonsais is almal op datum, daar is niks nuwe sport op televisie nie, ekself kan nie gaan sport beoefen nie en ek en Riëtte kan nie na die kinders ry of sommer net êrens heen gaan nie. En dan beleef mens opnuut die teenwoordigheid van die Here. Jy het ook meer tyd vir Bybelstudie en gebed! Jy besef die Here is altyd daar vir ons, ook in hierdie grendeltyd. Hy is altyd beskikbaar, Hy luister na ons, Hy ken ons, Hy is lief vir ons! My gebed is dat jy ook iets hiervan in grendeltyd ervaar het. Dat jy in hierdie tyd op ‘n manier die Here herontmoet het wat jou nie beskore is met jou vol program nie. Dat jy Hom opnuut leer vertrou het en verdiep het in jou verhouding met die Here. Hopelik het grendeltyd, tesame met die “swaarkry” wat dit op verskeie vlakke vir baie mense gebring het, ook hierdie wins in jou lewe gebring: jou verhouding met die Here het verdiep en verinnig! Reageer gerus hierop en vertel ons van jou ervarings in grendeltyd op hierdie vlak!
Johan Morkel