7 Mei 2020

Skriflesing: Johannes 10:1 – 16

Ek het die afgelope week weer hierdie bekende gedeelte gelees oor die herder wat so mooi na sy skape omsien. Ons almal ken Joh.10 al van kindsbeen af. Ek het dit ‘n paar maal deurgelees en toe sommer neergeskryf wat ek lees.

Van die herder word gesê:

  • Die herder kom die skaapkraal deur die hek in.
  • Hy ken die skape by die naam.
  • Hy roep die skape op hul name.
  • Hy lei, loop voor sy skape uit.
  • Hy sorg vir hulle, gee vir hulle in oorvloed.
  • En dan sê Jesus:
  • Ek is die goeie herder, die goeie herder lê sy lewe af vir sy skape.
  • Ek is die ingang vir die skape.

Hier word soveel beloftes vir ons in hierdie verse gegee! Beloftes wat juis in hierdie tyd van inperking vir ons soveel beteken. Kom ons dink vir ‘n oomblik weer hieroor na. Jesus is die ingang tot die lewe. Ons as gelowiges behoort aan God omdat Jesus as die Goeie Herder sy lewe vir ons afgelê het. Kom ons sê weer vir Jesus dankie dat ons aan Hom behoort, “Dankie Here dat ek deur u soenverdienste kind van God kan wees.” Maar dit is nie al nie, lees gerus ook weer die res van die beloftes van die Goeie Herder en sê ook vir die Here daarvoor dankie! “Dankie dat U as die Goeie Herder my by die naam ken soos ‘n herder sy skape ken. Dankie dat U van my weet – ookal voel ek verlate en alleen in hierdie dae. Dankie dat U vir my sorg, dat U elke dag daar is vir my”. Ons kan weliswaar rus in hierdie beloftes van die Here in Joh.10 vind!

 

Miskien let ons nie altyd so daarop nie, maar hier word ook heelwat van die skape gesê:

  • Die skape ken die stem van hul herder.
  • Die skape luister na die herder en volg die herder.
  • Die skape luister nie na ander wat hulle voordoen as die herder nie.
  • Die skape ondervind hoedat die herder hulle in- en uitlei, met ander woorde, daagliks vir hulle sorg!

Kom ons vra bietjie vir onsself in hierdie dae waarin ons meer tyd as gewoonlik tot ons beskikking het so ‘n paar vrae aan die hand van hierdie opmerkings. Ken ek werklik die stem van die Here? Ken ek die stem van die Here bo die baie ander stemme wat ek elke dag hoor – die stem van my eie wil, van die wêreld, van versoekings, geld, oordrewe ambisie? Volg ek die stem van die Here, of troos ek myself maar net om sy stem te hoor – en daarna volg ek dié stemme wat ek wil volg? Kom ons kry vir ‘n oomblik weer dié prentjie in ons gedagtes: ‘n Herder wat by die hek van die skaapkraal uitstap. Agter hom volg sy kudde, sy skape. Hy het nie nodig om hulle aan te dryf, aan te jaag of om op hulle te skreeu nie. Nee, hulle volg hom omdat hulle weet hy sorg vir hulle, omdat hulle lief is vir hom, omdat hulle weet dit is die beste om by hom te wees! Is jy een van dié skape wat elke dag getrou die Goeie Herder volg?