23 Maart 2018
Lydenstyd, weet jy darem seker teen die tyd, duur 40 dae. Hierdie veertig dae word op verskillende maniere deur verskillende kerke ingeklee. Dis byvoorbeeld ‘n baie algemene gebruik dat Christene in hierdie tyd vas – nie noodwendig ophou eet nie, maar vrywillig afstand doen van sekere lekkernye of aktiwiteite, om hulle die hele tyd daaraan te herinner dat Jesus vir ons gely het. Iemand sou byvoorbeeld nie sjokolade eet in daardie veertig dae nie, of gaskoeldrank drink nie, of geen flieks op die TV kyk nie, of so iets. Dis ‘n baie persoonlike keuse wat elkeen vir hom- of haarself moet (of kan) maak.
Hierdie Lydenstyd loop op na die laaste week voor Goeie Vrydag, wat bekend staan as die “Groot Lydensweek”. Vir hierdie vier aande kom ons saam by die kerk bymekaar vir ‘n kort byeenkoms (omtrent 30 minute) – net so ‘n oase van stilte en rus in ons vol week, om ons te help onthou waarheen ons op pad is. Dis nie ‘n preek-geleentheid soos bv. Pinkster nie, maar ‘n stilword-geleentheid. Ons besin in ‘n stemmingsvolle atmosfeer met gepaste musiek oor die lydensverhaal vanuit die Woord.
Die liturg wat hiervoor verantwoordelik is (vanjaar Jandré) klee die byeenkomste in soos hy verkies. ‘n Gebruik wat nou in baie gemeentes toegepas word, is of om die Donderdagaand die Nagmaal te bedien, soos Chris verlede jaar gedoen het, of om die sg tenebre, die fees van die kerse, te hou waartydens een kers na die ander uitgedoof word tot net een oorbly: die Christuskers, wat Vrydagoggend gedoof word.
Vrydagoggend se diens is somber en gedemp. Daar is die minimum musiek en lig, en die diens eindig stomp wanneer die kers net uitgedoof word en ons die kerk stil verlaat. Vanjaar gaan ons die Nagmaal wel Vrydagoggend bedien. Die Saterdag daarna staan as “Stil Saterdag” bekend. Dan raas ons nie onnodig nie (Jy kan darem met jou eggenoot of kinders praat!) maar bly die hele dag bewus daarvan dat Jesus daardie Saterdag in die graf deurgebring het. Maar Sondag is dan heel ‘n ander storie!
Eers kom ons saam langs die rivier byeen (in Van Wykstraat) en wag die sonopkoms saam in. Dis vir my altyd aangrypend as die lig deurbreek net soos dit in ons lewens met Jesus se opstanding deurgebreek het. Ons sing gewoonlik een lied, en lees die opstandingsverhaal. Vanjaar gaan Johan vir ons daar voor. Daarna gaan ons kerk toe, en daar is soveel lig en vrolikheid as moontlik by die kerk. Ons bring gewoonlik blomme saam kerk toe, en deel dit uit. Ons is uitbundig bly, want die Here leef en ons sal leef!
Interessant dat die voorganger tradisioneel Paassondag se diens met ‘n grappie begin het, sodat die hele gemeente saam kon lag. Dalk is dit ‘n aanduiding van watter droë ou bokkems die dominees geword het, dat die gebruik in onbruik verval het. Dalk kan Jandré dit vanjaar laat herleef…?