28 November 2024
Vir hierdie laaste uitgawe van Die Akker waarvoor ek verantwoordelik gaan wees, is ek en Adri gevra om ‘n paar vragies te antwoord. Ons het besluit om dit saam te doen, aangesien dieselfde vrae aan ons albei gestel is. Hier is ons dan…
- Waarna sien julle die meeste uit na jou aftrede?
Ek onthou dat Johan Morkel ‘n jaar of wat gelede vir my vertel het watter verligting dit vir hom was toe hy die eerste oggend wakker word en daar is niemand oor wie hy skuldig voel nie – geen besoeke wat hy dalk eintlik al moes gedoen het, of geen stuk voorbereiding wat agterweë gebly het nie. Die waarheid is mos dat ‘n dominee altyd goed in sy agterkop het waarby hy net nog nie uitgekom het nie en wat hom bietjie pla. Dit klink vir my na iets waarna ‘n mens kan uitsien. Ek gaan nooit weer 24/7 aan diens wees – dis mos die storie van elke dominee se lewe – nie.
Adri sê sy sien weer baie daarna uit om rustig in die erediens te gaan sit, sonder om te wonder of die prediker onthou het om die oggend sy insulien te spuit, en of hy gaan onthou om alles te doen en te sê wat van hom verwag word. En raai, ek verstaan dit nogal…
- Wat sal jy die meeste mis van De Eike?
In een woord: die gemeensaamheid. Natuurlik behoort kinders van die Here goed saam te werk en vir mekaar lief te wees, maar ons weet almal dis nie so vanselfsprekend nie. Die manier waarop ons hier in De Eike aanvaar is van dag een af, sal ons altyd bybly. Ek en Adri praat dikwels oor daardie eerste aand wat ons saam die kerkgebou ingestap het (11 Oktober 1992, as ek reg onthou), en hoe ons onmiddellik ervaar het hoe die liefde van die gemeente ons toevou. Daardie oomblik sal altyd vir my een van die mees uitstaande oomblikke van my lewe bly. Net daar het ek besef, ons is almal een groot familie…
Daarby kom die manier waarop die gemeente ook ons kinders aanvaar het. Ek onthou hoe hulle as benoude studentjies my gevra het om tog my Senior Bybelstudiegroep te vra om te bid vir ‘n moeilike toets wat voorlê – en dan het hulle dit gedoen. Hulle het ook elke keer agterna gevra hoe dit toe gegaan het. Die sagte oë waarmee julle na ons en ons kinders gekyk het, was vir ons eindeloos kosbaar.
Daarby kom die gevoel wat ek elke keer op die kansel gekry het, dat julle almal by is, en dat julle deel is van die erediens en die prediking. Dieselfde geld vir Adri se begeleiding oor die afgelope 12 jaar. Dit was kosbaar. In tye wat dit goed gegaan het, en in tye wat bietjie moeiliker vir ons was, het julle verstaan en vir ons gebid, eerder as om te kritiseer. Dankie!
Vir my persoonlik as dominee was dit ‘n voorreg dat mense my vertrou het deur moeilike goed in hulle lewens met my te deel. Ek kon nie altyd alles regmaak nie, maar ek kon saam met julle bid en soms saam huil. Dankie dat julle my vertrou het met julle lewens!
En dan natuurlik daardie kollegaskap – wat vir baie dominees dalk die mees problematiese deel van hulle bediening is. Maar ons drie het oor jare net al nader aan mekaar gegroei, soos ons mekaar beter leer verstaan het, en mekaar kans gegee het om te blom in die bediening. Ek sal julle mis – julle was fantastiese mense om mee saam te werk!
2b. Wat sal ons nie mis nie?
Soos my jare in die bediening al meer geword het, het dit vir my al moeiliker geraak om mense te help om daardie seer goed wat met hulle gebeur, te dra. Hoe langer ons in die gemeente was, hoe meer het ons immers soos familie gevoel. Natuurlik was dit elke keer ‘n voorreg, maar dit het ook al moeiliker geword.
- Deel asb een of twee komiese momente wat in julle tyd by De Eike gebeur het.
Ja wel, baie van die goed wat skreeusnaaks was in die oomblik, mag dalk nie agterna heeltemal so snaaks oorkom as ons dit vandag vertel nie. Maar ek onthou darem daardie dag die ouderling wat met sy eerste Nagmaal aan die tafel gesit het, en die diakens moes gaan bedien. Maar hoe meer ek vir hom die bordjie uithou, hoe meer het hy net met ‘n breë glimlag ‘n broodjie probeer vat. Selfs die feit dat ek elke keer die bord weggeruk het, het hom nie die boodskap laat kry nie – totdat ek dit maar later vir hom (nie al te saggies nie) moes fluister. Toe het hy wel met ‘n baie rooi gesig die diakens gaan bedien. Maar soos ek sê, De Eike hou niemand se flaters teen hulle nie, en so het daardie ouderling nou ons leier kerkraadslid geword!
Ek onthou Johan se stoeigeveg met die skerm waarop ons liedere geprojekteer het, en sy benoude kreet toe die ding hom amper die hemele in gestuur het. Maar Adri sê sy onthou veral een baie lelike woord wat sy een oggend kwyt geraak het toe die klankstelsel skielik ‘n baie harde knal laat hoor het. Gelukkig het dit darem nie vir my my werk gekos nie…
Iets waaroor ek en Adri ons al jare lank breek, is De Eike se vermoë om enige woorde op enige wysie te sing. Dit gebeur mos maar soms dat daar ‘n kommunikasiegaping tussen leraar en orrelis is. Maar dit het De Eike nog nooit gekeer om daardie verkeerde woorde end-uit op daardie verkeerde wysie te sing nie. Ek dink dis nogal ‘n baie spesiale talent vir ‘n gemeente om te hê…
- Noem een of twee lewenslesse wat julle op julle tyd in De Eike geleer het.
Ek het in De Eike aangekom as ‘n erge introvert wat dit maar moeilik gevind het om van myself te gee en mense regtig te vertrou. Maar mettertyd het ons gemeente en veral ook ons kerkraad al hoe meer my vertroue gewen. Wat my in staat gestel het om al meer te waag om myself te wees en van myself te gee. Ek kan julle nie genoeg daarvoor dankie sê nie.
In ons omgang met gemeentelede het ons telkemale beleef hoe mense se geloof hulle in staat stel om geweldige uitdagings die hoof te bied, en steeds net aan die Here vas te hou. Ek is telkens daardeur geïnspireer en in my eie geloof versterk. Daarby is ek aangegryp deur De Eike se mense se vermoë om lief te hê, liefde wat in dade oorgegaan het elke keer wat dit nodig was. Kyk maar net weer hoe die gemeente reageer het op Elsabé se noodroep toe die vloede Green Park getref het, en die mense swaar gekry het. Ons is oorweldig deur mense wat hulle hande uitgesteek het en betrokke geraak het om die liefde van die Here uit te dra na mense wat swaar kry. Dis mos wat kerk-wees beteken!
En dan is daar natuurlik De Eike se unieke basaar-kultuur. Toe ek 32 jaar gelede hier gekom het, is ek vertel ons hou eintlik net vir die lekkerte basaar. Geld was ‘n bysaak. Wel, die ekonomie het natuurlik begin druk, en De Eike het net na ‘n hoër rat oorgeslaan. En elke keer het die Here net nuwe mense voorsien wat die leiding geneem het, en die volgende rekords oortref het. En raai, die basaar was steeds net so lekker! Ons het ons nie eens van die weer laat afsit nie – selfs in gietende reën het ons heerlik basaar gehou! En natuurlik, daardie worsjorsies wat so uniek De Eike is…
- Hoe het jou bediening oor die afgelope 32 jaar verander?
In een woord: dramaties. Ek het destyds hier aangeland in ‘n gemeente wat heeltemal plattelands was. Maar die tye het aangestap, en De Eike het daarmee saam ontwikkel. Groepe het ‘n al belangriker rol in die gemeente gespeel, en die kerkraad het ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Die eens kompakte gemeente woon nou dwarsoor die hele dorp, en diakens en ouderlinge het plek gemaak vir Blokleiers en Dienswerkers. Dit was wonderlik om te sien hoe lidmate hulle gawes al meer in diens van die Here stel. Ons is immers ‘n liggaam, en elke lid het ‘n unieke roeping en plek daarin. Ek dink nie die proses is afgehandel en dat ons reeds gearriveer het nie, maar ons groei steeds daarin. En dis reg – dis mos hoe die Bybel vir ons die gemeente teken.
- Ons afskeidswoorde in een of twee sinne.
Dis nou net mooi hier wat die onderhoud bietjie moeiliker raak. Ons altwee het effe emosioneel geraak toe ons dit vir mekaar probeer uitspel het. Ons het albei verwys na die manier waarop julle ons aanvaar het net soos ons is – party keer bietjie deurmekaar en windverwaaid – en ons deel van die familie gemaak het. Dankie daarvoor. Dankie ook vir die manier waarop julle vir Adri gedra het in die tyd wat sy met depressie gediagnoseer is.
Mag die Here gee dat dit altyd van De Eike waar sal wees, en dat die gemeente net van krag tot krag sal gaan. Wees ‘n baken in ‘n donker wêreld, ‘n stad op ‘n berg in Kuilsrivier. Hou aan om mense welkom te laat voel. Moet in daardie opsig nooit verander nie…
En op ‘n persoonlike noot wil ons van ons kant af baie welkom sê aan my opvolger. Ons weet dat Johan Janse van Rensburg baie gelukkig hier sal wees, en dat dieselfde liefde en ondersteuning wat julle vir ons gegee het, ook sy bediening hier sal laat blom tot eer van die Here.
Dit was ‘n voorreg om vir 32 jaar julle dominee-paar te wees!