30 Julie 2021
Riëtta Odendal skrywe:
Liewe vriende
By die Kinderkerk is ons ook verheug om komende Sondag voort te gaan met ons kinder eredienste, weliswaar steeds nie soos ons dit ken nie, maar darem.
Eerstens, dit is ons VERJAARSDAG op Dinsdag, die 3de Augustus, en sal ons dit saam met die kinders vier komende Sondag, en op die 15de Augustus (die 8ste is ‘n afnaweek). Ons is ‘n hele SEWE jaar oud! Dieselfde ouderdom as die meeste van ons graad eentjies. Soli Deo Gloria! Ons moes die afgelope twee jaar baie aanpassings maak, maar voortmars sal ons voortmars! Voorwaarts Christenstryders!
Kinderkerk gebeur nou soos volg :
Die Junior en Senior grade (graad 1 tot 3 en graad 4 tot 6), vergader om die beurt Sondae, steeds in die konsistorie. Komende Sondag is dit die Graad 1 – 3’s se beurt.
Soos die kindertjies arriveer, hanteer ons, ons projek. Ons maats bring geld, sopprodukte, leë koffieflesse (vir die Fles van Hoop projek), wol, plastiekdoppies, broodknippies, leë joghurthouers met deksels, en plaas alles op ‘n tafel daarvoor voorsien. Hulle kan dan ook hartjie-plakkers plak op ons plakkaat. Op dieselfde tafel is ook ‘n houer vir hul dankoffer.
Stiptelik om 09:30 (Winter kwartale) word die kers aangeskakel, en vir ‘n spesifieke graadgroep en hul klasleier gebid.
Elke Sondag is daar ‘n kinder-oomblik in die hoof erediens, deur die predikant aan die woord, en word dit gestroom na ‘n groot skerm in die konsistorie waar die kinders sit. Die dominees volg ons kinderkerkprogram vir die kinder-oomblik, sodat die take wat die kinders agterna in klasverband doen, by die kinder-oomblik kan aansluit. Die take dien as vaslegging van die boodskap. Die kinders ontvang elke keer twee Sondae se take, sodat hulle ook ‘n taak by die huis kan doen, wanneer hulle die tussen-in Sondae die diens van die huis af stroom. Die spesifieke teksvers word in die program (reeds aan alle ouers voorsien deur e-pos) aangedui, sodat die klasleier en/of ouers die vers by die huis ook kan vaslê.
Na die boodskap verdaag die kinders na hul onderskeie klasse saam met hul klasleiers. Hulle doen hul take, en hul verjaarsdae word ook in klasverband hanteer, waar elke verjaarsdagmaat ‘n “Voetspore” klip kry.
Klastyd Komende Sondag : Juniors
Graad 1 : Kleuterlokaal (ouers haal die kinders in die saal)
Graad 2 : Agter in konsistorie
Graad 3 : Voor in konsistorie
Seniors :
Graad 6 : Lokaal oorkant kleuterlokaal, op die verhoog
Graad 4 : Voor in konsistorie
Graad 5 : Agter in konsistorie
Ek hoop ons kinderkerk klasleiers, sowel as alle ander gemeentelede is nou op dieselfde bladsy.
Liefde-groete
Riëtta Odendal
Organiseerder : Kinderkerk