19 Oktober 2017
“Sola gratia…”
Stel jou voor dis 1521. In die paleis van die jong Duitse keiser Karel V in Worms. In die raadsaal staan ‘n jong monnik omring deur die room van die Duitse adel, omtrent 200 van hulle, met die keiser self voor in die middel. Maarten Luther weet van die skare wat al van vroegdag af buite saamdrom om te hoor wat vandag hier gaan gebeur. Maar hier binne is die spanning is omtrent ondraaglik. Jy kan jy ‘n speld hoor val, terwyl almal se oë op die enkele man in die middel van die groot saal is.
Hy is maar ‘n doodgewone monnik. Met ‘n gewone monnikskleed aan, tussen al daardie prag en praal. Soos hy daar staan, is hy reeds deur die magtige Katolieke Kerk veroordeel. Die Pous het die Ban oor hom uitgespreek. Nou moes die keiser dit net bekragtig. Dan sou hulle die jong monnik na Rome stuur om op die brandstapel te gaan sterf. En dan hoor jy die stem van die aanklaer. Hy vra vir Luther: “Is jy bereid om die boeke wat jy geskryf het, wat hier voor jou lê, terug te trek?”
Toe hulle gister die vraag aan hom gevra het, het hy nie kans gesien om daarop te antwoord nie, en 24 uur uitstel gevra. Maar nou is dit die oomblik van waarheid. Maarten Luther kan homself soveel ellende spaar deur net Ja! te sê. Hy kan sê dit was net ‘n oordeelsfout, ‘n misverstand, en dan ‘n vry man daar uitstap… En dan kom sy antwoord, eers in Duits, dan in Latyn. Op die ou end sluit hy af met daardie beroemde woorde: “Hier staan ek. Ek kan nie anders nie. Mag God my help. Amen.”
Ek kan nie anders nie. Die waarheid van die Evangelie, dat God mense net uit genade verlos sonder dat hulle dit verdien, is vir my ononderhandelbaar. Selfs al stel julle my tereg, ek kan dit nie loën nie. My hele lewe is daarop gebou. Ek soek al my lewe lank na God. Elke dag het ek gevra: Waar kry ek ‘n genadige God? En toe lees ek die dag Romeine 1:17 weer: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe”. Daardie dag het Luther verstaan: geen mens verdien om deur God gered te word nie. Dis net omdat jy glo in Hom wat klaar vir ons alles op Golgota verdien het, wat ons gered kan word. Dis alles net genade.
God géé vir ons die ewige lewe. As geskenk. Jy hoef dit net te ontvang. En dan te gaan leef soos ‘n mens aan wie soveel genade bewys is. Deur God met oorgawe te dien. Vir Luther het dit beteken dat hy nie anders kon nie. Hy moes die dag teen alle opposisie in standpunt inneem. En vir jou? Vir jou beteken dit dat jy as verloste die Here met jou hele hart sal dien, totale oorgawe, dat jy sy wil sal soek en dit sonder kompromie sal doen. Enigiets minder sou absurd wees. Soos Luther, kan jy maar net jou hele lewe op die altaar plaas…
Daardie dag het in Worms ‘n wonderwerk gebeur. Teen alle verwagtinge in, het keiser Luther vrygelaat. Hy is toe na Wartburg, waar hy die Bybel die eerste keer in Duits vertaal het. God het vir Luther bewaar, want Hy het nog vir hom werk gehad!
En ons? Hervormingsdag herinner ons daaraan dat die tyd vir kompromie verby is. Hier staan ook ek en jy vanoggend. Ook ons kan nie anders nie. Ons moet lewe uit daardie genade waarsonder ons een en elkeen, verlore sou gegaan het. Na soveel genade wat aan my bewys is, sal ek my Here met alles, met hele lewe dien. Ek kan nie anders nie.
AMEN