15 Maart 2018
Laasweek sit en werk ek op my rekenaar. My seun hardloop in die huis rond en vra vir my ‘n dood eerlike vraag. Na die vyfde keer wat hy dieselfde vraag vra, kom vat hy my aan my arm en sê, “Pappa, luister asseblief vir my!”
As ouers raak ons soms so vasgevang in werk, dat ons vergeet om na ons kinders te luister. Dit is so maklik om nie te luister nie. Dit is so maklik om die verskoning te gebruik, “Ek het baie werk!” As ek na my driejarige seun kyk, raak ek so bewus van sy behoefte om te voel hy word na geluister.
Dit bring my egter by die vrae, “Hoekom moet ons luister? Hoekom moet ons luister oomblikke vestig? “
Dit skep veilige ruimtes
Ons moet verstaan dat alle kinders het ‘n soeke na gemeenskap, sin en betekenis, en bemagtiging. Deur te luister skep ons veilige ruimtes waar hierdie aspekte aangespreek kan word. Deur alles te los en na my kind te luister bevestig ek dat hy veilig kan voel in my teenwoordigheid. Ek bevestig dus dat hy gehoor word. Iets wat navorsers sê jy kan doen, is om altyd op dieselfde ooghoogte na jou kind te luister. Byvoorbeeld, as my seun na my toe hardloop, dan sou ek kon afsak en hom in sy oë kyk. Dit bevestig dat ek luister en dat hy veilig kan voel. Om ‘n veilige ruimte te skep vra ook soms van ons om ‘n oomblik in elke dag vir ons kinders uit te sit. Wanneer laas het jy so ‘n oomblik geskep en net geluister na jou kind? Wanneer laas het jy so ‘n oomblik geskep en vir jou kind gevra, “Hoe was jou dag gewees?” Veilige ruimtes bemagtig jou kind met betekenis en gemeenskap.
Dit skep tyd vir groei
Om te luister skep ook tyd vir groei. ‘n Wedersydse groei waarby kind en ouer bemagtig word. My seun vra my soms moeilike vrae. Ek weet nie altyd wat die antwoord is nie. Deur sy vraag skep hy die geleentheid waarby ek ook kan groei. Aan die ander kant leer my seun baie keer iets uit sy eie vraag. Ek het so twee jaar terug ‘n artikel gelees wat reken dat Suid-Afrikaners van die on-kreatiefste denkers in die wêreld is. Dit het my egter laat wonder, want ek besef nou dat ek ‘n verantwoordelikheid het teenoor my kind om hom te bemagtig met kreatiewe denke. Al hoe ek dit kan doen is deur tyd te maak om na my kind te luister, want deur na my kind te luister bemagtig ek my kind met persoonlike, intellektuele, kreatiewe groei. Wanneer laas het jy na jou kind geluister of tyd gemaak waar jou kind kan groei? Dit is nie net die skool en kerk se verantwoordelikheid nie. Dit begin eerstens by die huis.
Dit skep tyd vir liefde
Om te luister skep tyd vir liefde. Meeste van my en my seun se luister sessies speel uit op goeie tye. In hierdie goeie tye was ek al ‘n dinosaur, restaurant eienaar, polisieman, bouer, ens. Navorsing wys dat luistertye altyd uitloop op speeltye. Deur saam met jou kind te speel vorm jou kind goeie brein patrone wat goeie oordragstowwe uitskei. Hierdie goeie brein patrone vestig goeie herinneringe. Dit skep ook tyd vir saam lag en saam huil. Om te luister laat jou kind voel, “Ek is geliefd!” Die vraag bly egter, wanneer laas het jy tyd geskep om te luister?
Miskien raak dit tyd om weer na ons kinders te luister, want deur om na hul te luister skep God heilige oomblikke. My seun leer my baie oor myself en oor ander mense. Sy eerlike hart en eerlike vrae herinner my aan my eie leemtes en gebrokenheid. Al wat ek weet, my seun is woelig en baie besig, maar ons luister oomblikke is meer werd as die huis waarbinne ek bly.