23 Maart 2018

“There is a difference between listening and waiting for your turn to speak.” Hierdie is ‘n gesegde wat deur die bekende Simon Sinek gebruik word.  Dit laat mens egter met baie stof vir nadenke.  Om te luister is ‘n baie goeie eienskap en gawe wat ek glo baie mense sukkel om toe te pas.  Meeste van die tyd wag ek gewoontlik vir my beurt om iets te sê, maar ek raak so vasgevang in die denke dat ek eintlik glad nie luister na die vraag of konteks nie.

Ek doen dit as ouer ook baie.  Ek luister nie altyd na my seun se vraag nie, maar weet al wat ek hom gaan antwoord, nog voordat hy klaar die vraag gevra het.  Om te luister is nie om antwoorde uit te deel nie.  Om te luister, moet ander mense bemagtig om hul eie vrae te antwoord.  Dit is waaroor geloofsvorming handel.  Geloofsvorming moet ruimte skep waar alle mense hul eie antwoorde op hul eie vrae ontdek.  In die huis is dit dan ook belangrik om die selfde beginsels by jou kinders toe te pas.  Luister met die oog om ruimte te skep sodat jou kind sy eie vrae kan antwoord.

Die vraag bly dan egter, “Hoe kan ek op so ‘n manier luister sodat my kind voel ek bombadeer hom/haar nie met raad nie?”

Wat sê jou liggaamshouding?

Ek wonder hoeveel mense weet dat 70% van alle kommunikasie vind nie-verbaal plaas.  Al dink jy  jy luister na jou kind, moet jou liggaamshouding dit ook deurgee.  Allan Pease het in 1987 al ‘n wonderlike boek geskryf oor liggaamshouding.  In hierdie boek beweer hy dat kommunikasie in sones plaas vind.  Hoe nader ek aan my kind staan, hoe veiliger en intiemer ervaar hy/sy die gesprek.  Die realiteit is, dat ons afstand geskep het tussen onsself en ons kinders.  Selfone help ook nie eintlik hier nie.  ‘n Ander belangrike faktor is om alles te los waarmee ek besig is, en na my kind te luister.  Jou lyftaal moet ook oop en eerlik wees.  Allan Pease beweer ook  dat ons nooit moet sit met gekruisde arms nie, dit skep baie keer die indruk dat ek nie nou lus is om te luister nie.  Dit skep ‘n indruk van geslote kommunikasie.  Skep altyd ‘n veilige ruimte waar jou kind voel pa/ma luister nou na my.  Ek het al baie kinders hoor sê, “julle verstaan my nie.”  As ons kinders dit vir ons sê, moet ons dalk beter luister.  Hierdie stelling sê dalk vir ons, dat ons, ons kinders moet verseker dat ons luister.   Dit begin al met die manier hoe ek sit en staan.

Wat sê jou oë?

‘n Ander manier hoe ek kan beter luister is om altyd oogkontak te maak met my kind.  Ons seun het nou die dag vir my vrou iets gevra.  Sy was besig om iets te maak in die kombuis.  Ons seun stap toe na my vrou toe en sê vir haar, “mamma kyk asb. vir my in my oë as ek praat.”  Baie sal dit as arrogant ervaar, maar in wese was dit vir my seun baie belangrik.  Oogkontak bevestig dat ek luister.  Oogkontak bevestig dat ander veilig kan voel.  Miskien raak dit dalk tyd vir ons om alles om ons te los en oogkontak te maak.

Wat sê jou woorde?

My keuse van woorde bepaal ook die atmosfeer van enige gesprek.  Ons is baie keer geneig om eerder raad te gee.  Kinders soek nie altyd raad nie, hulle wil net voel iemand luister na my.  Woorde wat ek kan gebruik om te bevestig dat ek luister is:

“Ek hoor jy sê…”

“Ek verstaan nie mooi, verduidelik gou weer… “

“Ek wil net bevestig dat…”

“Ek het na jou geluister en…”

Die regte woorde rond baie keer net ‘n vraag of gesprek baie mooi af.  Om te luister vra van my om stil te bly en te luister.

Ons moet verstaan dat luister is ‘n baie objektiewe eienskap.  Luister vra nie van my om my eie subjektiewe denke af te druk nie.  Luister is om myself in my kind se skoene te plaas en begrip te vorm vanuit sy/haar konteks.  Kom ons luister vir ‘n slag ordentlik na ons kinders.