9 Maart 2018

So twee dae gelede lê ek en my seun op die bank en kyk na die animasie prent, “The Good Dinosaur.”  Dit is ‘n baie oulike animasie prent met baie hartseer en ernstige dele.  Tydens een van hierdie hartseer dele konfronteer my seun my met ‘n eerlike vraag, “Hoekom huil hy pappa?”  Ek was vir ‘n wyle onseker wat om te antwoord.

Die vraag het my egter laat dink oor die toekoms en wanneer die vrae ernstiger gaan raak.  Ek dink aan vrae soos, “Hoekom laat God lyding toe?  Is God regtig lief vir my?”  Ek weet baie ouers kry hierdie tipe vrae en voel dalk soms magteloos, want hul weet nie wat om te antwoord nie.

Ons wil deur middel van Huisgeloof ouers bemagtig om moeilike vrae te antwoord.  Ons gaan dalk nie al die antwoorde op hierdie vrae hê nie, maar ons kan almal saam dink en wonder oor die regte antwoorde.

Maar voordat ons by antwoorde kom wil ek graag stilstaan by ietsie anderste.  Ek wil eers die volgende vraag vrae: “Vermy jy dalk hierdie gesprekke?  Skep jy tyd vir hierdie vrae?”  Of los jy dalk hierdie vrae en antwoorde vir die kerk, want dit is gemakliker?

Die realiteit is, as ouers is ons verantwoordelik vir die geloofsvorming van ons kinders.  As ouers moet ons tyd maak om na die moeilike vrae te luister.  Ek wil dan eerder eers stilstaan by maniere hoe ek kan luister na my kind se vrae. Vir die volgende twee weke gaan ons kyk na maniere hoe ek na my kind kan luister.

Dit is belangrik om te verstaan dat die essensie van hierdie vrae lê nie net by die antwoorde nie, maar by die maniere hoe ek as ouer luister.  In my en my familie se lewens vergeet ons soms om momente te skep waar ons na mekaar kan luister.  Ons vergeet soms om stilhou plekke te skep waar ons eerlike vrae kan vra.  Ons is almal baie besig, maar ons moet nooit te besig raak om te luister nie.

Kom ontdek saam met ons maniere hoe om te luister, want alle vrae begin die aksie van luister.

Jandré