12 Oktober 2018

Liewe gebedsvriende

Na die aardbewing- en tsoenami-ramp wat Indonesië op Vrydag 28 September getref het, het die Indonesiese rampbestuuragentskap op Sondag (30 September) bevestig dat die dodetal tot 844 gestyg het en waarskynlik gaan toeneem. Dié aardbewing van 7,5 het die Sentrale Sulawesi-provinsie in Indonesië getref en die stad Palu en naburige dorp, Donggala is deur ses meter hoë tsunami-golwe verwoes. Van die gebiede wat die ergste getref is, kon teen Maandag nog nie bereik word nie. Die Rooikruis beraam dat meer as 1,6 miljoen mense deur hierdie ramp geraak is. Die 7.5 aardbewing se vlak oorsprong was kragtiger as ‘n reeks aardbewings wat honderde se dood op die Indonesiese eiland, Lombok in Julie en Augustus veroorsaak het.
Indonesië is een van die lande wat die meeste deur natuurrampe getref word. Dit lê op die Stille Oseaan se “kring van vuur”, waar tektoniese plate teen mekaar bots. Hiér is ook waar baie van die wêreld se vulkaniese uitbarstings en aardbewings voorkom. Indonesië is al deur ? reeks ander dodelike aardbewings getref, insluitend die verwoestende 9.1 aardbewing wat in Desember 2004 die kus van Sumatra getref het. Dié aardbewing wat op Welwillendheidsdag plaasgevind het, het ‘n tsunami veroorsaak waar sowat 220 000 mense in die streek dood is, 168 000 daarvan in Indonesië.

Na Islam, is die Christelike geloof die tweede grootste godsdiens in Indonesië. Indonesië het ook die tweede grootste Christelike bevolking in Suidoos-Asië naas die Filippyne asook die grootste Protestantse bevolking in Suidoos-Asië. Die Sentraal-Sulawesi streek, wat deur hierdie ramp geraak word, bestaan ongeveer uit 17% Protestante.

Bid asseblief saam met ons vir hierdie streek van Indonesië.

“Saans en smôrens en smiddags klaag ek en steun, en Hy hoor my stem.” (Psalm 55:18)

Saam in Sy diens.
Donnelly McCleland

 

Liewe gebedsvriende

Kabinetsministers is Sondag 7 Oktober deur die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu gewaarsku dat Israel voorberei vir ? moontlike militêre veldtog in die Gazastrook, indien die humanitêre toestande in dié gebied veroorsaak dat skermutselings by die grens buite beheer raak. Daar word berig dat drie Palestyne, insluitend ‘n 14-jarige seun doodgemaak en tientalle beseer is toe ongeveer 20,000 Palestyne Vrydag aan gewelddadige betogings by die grens van Gaza deelgeneem het. Die betogers het handgranate gegooi en probeer om deur die versperrings te breek.

Hierdie gewelddadige betogings by die grens het in die afgelope weke dramaties toegeneem, en het bekend geword as die “Groot Terugkeer Mars”. Wat aanvanklik as ? weeklikse gebeurtenis aan die einde van Maart begin het, het begin afneem aangesien Hamas in indirekte gesprekke met Israel betrokke was om ‘n wapenstilstand te bewerkstellig. Gesprekke het ? dooiepunt bereik, en Hamas het die tempo van onrus en betogings teen Israel verhoog.

Daarbenewens beweer die Palestynse Owerheid (wat die Wes-Bank beheer) dat hulle nie finansieël verantwoordelik gehou moet word vir die Gazastrook, waar Hamas in beheer is nie. Hulle het probeer om Hamas te dwing om te ontwapen deur noodsaaklike hulpbronne te weerhou. Die krisis in die Gazastrook het net vererger, waar inwoners elektrisiteit en watertekorte beleef. Israel en Egipte het ook beperkings op die beweging van mense en goedere in en uit Gaza geplaas wat die lewe in die gebied ongelooflik moeilik maak.

Bid asseblief saam met ons vir ‘n diplomatieke deurbraak vir die Gaza-krisis en dat ‘n volskaalse oorlog afgeweer sal word.

“Dit is die opperbevel. Deur middel van gebed gaan ons na ons vyand, ons staan aan sy kant en ons pleit by God vir hom. “(Dietrich Bonhoeffer)

Saam in Sy diens.

Donnelly McCleland