29 Augustus 2019
Liewe gebedsvriende
Op Sondag 25 Augustus het Brasilië se president, Jair Bolsonaro, militêre operasies in sewe state gemagtig om die brande in die Amasone te bestry. Oorlogsvliegtuie het begin om water op die brandende woude in Rondonia, ’n staat wat deel uitmaak van die Amasone-oerwoud, te stort in ’n poging om die verwoestende brande te beëindig.
Bykans 80,000 brande is vanjaar in Brasilië aangeteken, die grootste aantal brande sedert hulle in 2013 begin rekord hou het. Op Vrydag 23 Augustus het die president gesê hy is daartoe verbind om die Amasone-streek te beskerm, maar duisende betogers het na die strate van Rio de Janeiro gestroom om te eis dat die regering meer moet doen om die reënwoud te beskerm.
Die brande in die Amasone-reënwoud het ’n wêreldwye kwessie geword, wat die spanning tussen Brasilië en Europese lande oplaai, omdat hulle glo dat Bolsonaro sy verpligtinge om die woude te beskerm, verwaarloos het. Betogers het Vrydag buite die Brasiliaanse diplomatieke missies in Europese en Latyns-Amerikaanse stede vergader en ook in ander dele van Brasilië betoog.
Die Amasone-reënwoud in Brasilië is die grootste van sy soort op aarde. Dit beslaan 40 persent van Suid-Amerika en is die tuiste van meer as 30 miljoen mense sowel as ’n ontelbare hoeveelheid soogdiere, voëls, amfibieë en reptiele, waarvan die meeste uniek is aan dié oerwoud. Die Amasone word dikwels die ‘longe van die planeet’ genoem vanweë sy belangrike rol in die vervaardiging van suurstof, wat regoor die wêreld deur weerstelsels vervoer word.
Bid asseblief saam met ons vir Brasilië.
“Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed.” (Genesis 1:12)
Saam in Sy diens
Gigi Kotzé en Donnelly McCleland