18 Mei 2018

Liewe gebedsvriende

Op 13 Mei, slegs dae voor die begin van die maand van Ramadan, is Indonesië (met die grootste Moslembevolking ter wêreld), op hoë gereedheidsvlak na drie selfmoordbomaanvalle gerig op kerke in Surabaya wat 13 mense se lewens geëis het en meer as 40 ander beseer het. Die daders was geradikaliseerde lede van een familie wat onlangs uit Sirië teruggekeer het en betrokke was by die plaaslike tak van Jemaah Ansharut Daulah (JAD), ‘n Indonesiese militante netwerk deur die Islamitiese Staat geïnspireer. Dit is volgens berigte een van die dodelikste bomaanvalle in die land in meer as ‘n dekade.

Alhoewel die viering van Ramadan (‘n jaarlikse gebeurtenis in die negende maand op die Moslem-kalenderjaar) hoofsaaklik gesien word as ‘n tyd van geestelike vernuwing, selfondersoek en gebed, is ekstremiste bekend daarvoor dat hulle geweld gedurende hierdie tyd eskaleer. Aanvalle word beskou as dade van aanbidding en offers vir hulle geloof.

Ten spyte van die toename in gewelddadige aanvalle gedurende Ramadan (dikwels teen Moslem minderheidsektes, sowel as Christene), getuig baie Moslems dat drome en visioene meer dikwels voorkom en dat hulle meer deelneem aan diep gesprekke oor godsdiens en geloof.

Bid asseblief saam met ons vir Moslems regoor die wêreld gedurende hierdie Ramadan, vir beskerming teen aanvalle van die bose en vir meer geleenthede vir blootstelling aan die lewe-gewende Evangelie van Christus.

“Om hierdie rede, as enigiets in jou samelewing, insluitend jou geloof, jou Godgegewe vryheid en kapasiteit beperk om die waarhied te soek, moet jy die beste manier vind om daardie ketting te breek en jouself te bevry.” – Daniël Shayesteh (‘n voormalige Moslem)

Saam in Sy diens

Lucilia Moleko en Donnelly McCleland