8 Februarie 2019
Liewe gebedsvriende
Op Maandag 4 Februarie het miljoene Hindoe-pelgrims deelgeneem aan die rituele bad van die Kumbh Mela-fees – die wêreld se grootste godsdienstige byeenkoms. “Mauni Amavasya Snan” word beskou as die heiligste dag van die 48-dae lange fees wat tot 4 Maart duur. Hindoes glo dat as hulle bad by die samevloeiing van drie riviere – die Ganges, die Yamuna en die mitiese Saraswati – hulle van hul sondes gereinig sal word en hulle sal help om “moksha” (wat “bevryding” beteken), te bereik wat hulle sal vrystel van die siklus van geboorte en dood. Byna 12 miljoen mense het op 15 Januarie die eerste badritueel bygewoon en ongeveer 120 miljoen word tydens die hele fees verwag. Aanbidders mediteer op die oewer van die riviere na die bad en skep water uit die Ganges in houers om huis toe te neem.
Indië is die tuiste van ongeveer 90% van die wêreld se Hindoe-bevolking. Alhoewel Indië ‘n sekulêre staat is sonder ‘n staatsgodsdiens, speel Hindoeïsme ‘n prominente rol in die politiek. Ongeveer 79% Indiërs beskou hulself as Hindoe. Christenskap is die derde grootste godsdiens in Indië – tussen 2.3 en 5% van die bevolking. Indië se sterk filosofiese tradisie en godsdienstige, kulturele en etniese diversiteit maak voldoende Christelike opleiding noodsaaklik.
Bid asseblief saam met ons gedurende die tydperk van Kumbh Mela (eindig 4 Maart), vir diegene wat opsoek is na ‘reiniging’ en ‘bevryding’.
“want so lui die Here se opdrag aan ons: ‘Ek het U gegee as ‘n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde’.” (Handelinge 13:47)
Saam in Sy diens
Donnelly