15 Februarie 2019

Liewe gebedsvriende

Op Maandag 11 Februarie het Iran die 40ste jaar sedert die Islamitiese rewolusie van 1979 herdenk. Die rewolusie was die einde van die Pahlavi-monargie en die begin van vier dekades se godsdienstige heerskappy. Amptelike vieringe wat die “10 Day Dawn” genoem word, gedenk die tydperk tussen 1 en 11 Februarie 1979 toe die Sjiïtiese-geestelike Ayatollah Ruhollah Khomeini teruggekeer het uit ballingskap en die sjah se regering ontsetel het. Onder die sjah was godsdiens ‘n private aangeleentheid. Na die rewolusie het godsdiens deel geword van die openbare sfeer en Iraniërs is aangemoedig om hul toewyding aan Islam te wys as ‘n teken van trou aan die regime.

Ten spyte van die amptelike feesvieringe, staar Iran ernstige ekonomiese uitdagings in die gesig aangesien die land sukkel met ‘n kombinasie van plaaslike moeilikhede en sanksies deur Amerika. Die betogings van 2017-2018 in Iran, was deel van ‘n reeks openbare protesoptredes in verskeie stede wat op die regering se ekonomiese beleid gefokus het, maar hul omvang het uitgebrei om politieke opposisie teen die teokratiese regime van Iran en sy langtermyn-leier Ali Khamenei in te sluit.

Volgens ‘n studie gedoen in 2013 is ‘n derde van Iran se bevolking tussen 15 en 29 jaar oud. Die Islamitiese Republiek is die enigste Iran wat hulle ooit geken het. Tog word baie van hulle toenemend ontnugter en hunker hulle na vryheid wat hulle nie in hul leeftyd geken of ervaar het nie.

Ongeveer 98% van Iraniërs is Moslem, maar daar is ‘n groeiende ondergrondse Kerk, en baie van hierdie gelowiges kom uit die jonger, ontnugterde generasie.

id asseblief saam met ons vir Iran, dat te midde van die groeiende ekonomiese en politieke uitdagings, Iraniërs Jesus sal ontmoet.

“O, die blote besef dat siele – kosbare, onsterflike siele – oral rondom ons verlore gaan tot in die diepste, donkerste duisternis en wanhoop: ewig verlore – en nogtans geen sielsmarteling te ervaar, geen traan te stort of bemoeienis te maak! Hoe bitter min verstaan ons tog van die deernis van Jesus!” (Oswald J. Smith)

Saam in Sy diens

Donnelly McCleland