15 Maart 2019

Liewe gebedsvriende

Op Sondag 10 Maart het gevegte in Jemen se belangrikste hawestad, Hodeida, uitgebreek. Dit is die eerste beduidende gevegte sedert strydende partye in Desember ooreengekom het op ’n VN-bemiddelde wapenstilstand. Beide die Sjiïtiese Houthi-rebelle wat die stad beset en die regeringsgesteunde troepe wat hulle teenstaan, het versperrings opgerig en loopgrawe gegrawe. Die gevegte vind plaas dae na die internasionaal erkende Jemenitiese regering en hul bondgenote, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate, die Houthi-rebellevegters daarvan beskuldig het dat hulle die wapenstilstand verbreek en geweier het om hul troepe uit die stad te onttrek in ooreenstemming met die Desember-ooreenkoms. Volgens die ooreenkoms was die plaaslike owerhede en die polisie veronderstel om, onder toesig van die VN, in beheer te wees van die stad en sy drie hawens, nadat albei kante hul vegters onttrek het. Beide partye het ook ooreengekom om gevangenes uit te ruil, maar nie een van dié punte is tot dusver geïmplementeer nie.

Ten spyte van die Hodeida-ooreenkoms, wat in Swede onderteken is, duur gevegte ook in ander dele van die land voort. Dit het ook Sondag toegeneem, met amptenare wat vurige gevegte tussen die rebelle en pro-regeringstamme in die Hajjah-provinsie se Kasher-gebied aangemeld het, waar die Houthi’s na bewering, met behulp van swaar wapens, beheer oor die stad Abaysa geneem het en honderde burgerlikes in paniek op die vlug geslaan het.

Die Britse minister van buitelandse sake, Jeremy Hunt, het op 3 Maart gewaarsku dat die vredesproses in die oorloggeteisterde stad Hodeida in Jemen “binne weke kan doodloop” as beide kante nie groter en meer toegewyde pogings aanwend nie. Maar die tyd loop reeds uit vir baie mense soos hongersnood en siekte toeneem. Met ’n verbrokkelende ekonomie en infrastruktuur is miljoene sonder basiese noodsaaklikhede soos skuiling, mediese hulp, kos en skoon water. Die VN het pas toegang tot die Rooisee-meules in Hodeida verkry – wat genoeg graan het om 3,7 miljoen mense vir ’n maand te voed – ná ’n ses maande lange vertraging.

Bid asseblief saam met ons vir die wanhopige omstandighede in Jemen.

Deernis is die vermoë om vir ’n ander lewende wese te voel. Empatie is die vermoë om nie net iemand anders se gevoelens te verstaan nie, maar ook om een te word met daardie persoon se nood… om jouself in hul skoene te plaas en jouself in te dink wat hulle in daardie situasie deurmaak.” (Laurie Parish)

Saam in Sy diens

Donnelly McCleland