23 Mei 2019

Liewe gebedsvriende

Op 19 Mei het ’n bom langs die pad dig by ’n toerbus naby Egipte se piramides ontplof en 17 mense is beseer (insluitende Suid-Afrikaners en Egiptenare). Gelukkig is geen sterftes aangemeld nie. ’n Paar maande gelede, in Desember 2018, is drie Viëtnamese vakansiegangers en hul Egiptiese gids dood toe ’n bom langs die pad by hulle bus ontplof het; ook naby die piramides. Geen groep het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.

Sedert die Arabiese Lente-opstande in 2011, het Egipte se toerismesektor, wat ’n ekonomiese lewensaar is, onder ’n reeks dodelike aanvalle wat vakansiegangers geteiken het, deurgeloop. Daar was oor die afgelope paar jare tekens van herstel, met toeriste getalle wat in 2017 8.3 miljoen bereik het, teenoor 5.3 miljoen die vorige jaar. Maar dié syfer kom nog nie naby die meer as 14 miljoen toeriste wat die land in 2010 besoek het nie (’n rekordgetal).

Intussen is daar ook ’n voortdurende militêre offensief in die Sinai-skiereiland aan die gang waar regeringsmagte die Islamitiese Staat-groep (IS) beveg. Onstabiliteit binne die land het ’n negatiewe invloed op alle aspekte van die samelewing, insluitende die lewendige Egiptiese Kerkgemeenskap (ongeveer 10% van die bevolking).

Bid asseblief saam met ons vir Egipte terwyl die owerhede poog om hul nasie ’n veiliger plek te maak.

“Hoop beteken om ‘n verwagting te hê wanneer dinge andersins hopeloos lyk.” (G.K. Chesterton)

Saam in Sy diens

Donnelly McCleland