2 November 2018

Liewe gebedsvriende

Miljoene kiesers regoor die VSA gaan op 6 November na die stembusse vir die midterm tussenverkiesing. Hierdie verkiesing vind elke vier jaar, halfpad deur die president se vierjaartermyn in die amp, in die VSA plaas. Daar sal vir 435 setels in die Huis van Verteenwoordigers gestem word, aangesien lede vir twee jaar staan. Vyf-en-dertig setels in die 100-lid Senaat is ook vanjaar op die stembrief (dié lede dien ses jaar lank). So ook goewerneurs vir 36 state.

Talle politieke ontleders bestempel hierdie tussenverkiesing as ‘n soort ‘referendum’ van Donald Trump se eerste twee jaar as president. Daar is ook baie op die spel vir president Trump. Die party wat uiteindelik in beheer is van die Kongres, kan die president se lewe aansienlik makliker of moeiliker maak gedurende die laaste twee jaar van sy termyn.

Die uitslag van hierdie tussenverkiesing kan ook die internasionale beeld van president Trump beïnvloed. ? Sterk vertoning deur die Republikeine sal beteken dat mnr. Trump nog ‘n stewige greep op die land as president het en ook sy “Amerika-eerste” agenda weer aan die wêreld bevestig. Indien die Demokrate die Huis van Verteenwoordigers, Senaat of albei verower, kan mnr. Trump kwesbaarder voorkom en sy administrasie kan ingeperk word.

Amerikaanse sendelinge het nog altyd ‘n belangrike rol gespeel in hoe Amerika met die wêreld omgaan, soos hulle nog steeds doen. Gedurende die 19de eeu het Amerikaanse Protestantse sendelinge oor die hele wêreld versprei – na Asië, Afrika, die Midde-Ooste, Europa, die Stille Oseaan en die Amerikas. Die VSA bly steeds die vernaamste nasie wat sendelinge uitstuur, en dus het hulle geweldige invloed deur die hele wêreld. Politieke veranderinge in die VSA het ? groot uitwerking in die wêreld op soveel maniere, insluitend die werk van sendelinge.

Bid asseblief saam met ons vir hierdie Amerikaanse tussenverkiesing, dat die Here se wil geskied vir diegene in die VSA en regoor die wêreld.

“Gebed lig ons in waarmee God besig is.” (Eugene H. Peterson)

Saam in Sy diens
Donnelly McCleland