2 Augustus 2019
Liewe gebedsvriende
Op Maandag 29 Julie het vyf Malawiese hooggeregshof-regters met beraadslaging begin om ’n politieke krisis, wat tot voortdurende betogings in die normaalweg rustige Suider-Afrikaanse land gelei het, op te los. Bewyse van wydverspreide onreëlmatighede tydens die presidensiële verkiesing op 21 Mei het die afgelope twee maande, ’n golf van openbare betogings tot gevolg gehad. Hoofsaaklik jong mense het in die hoofstad Lilongwe en die kommersiële stad Blantyre betoog en paaie met klippe en brandende bande versper. Sommige regeringsgeboue en politici se huise is aan die brand gesteek. Die krisis het wisselvalligheid in die plaaslike geldeenheid veroorsaak en tot die stagnasie van ’n reeds brose ekonomie, in een van die armste lande ter wêreld, gelei.
Sedert Malawi in 1994 bewind deur een party beëindig het, het die land met 18 miljoen inwoners ’n reputasie vir gereelde veelpartyverkiesings en gladde oorgang van mag verwerf. Daar was al in die verlede bewerings van bedrog, maar niks soos op die huidige skaal nie. President Peter Mutharika is die “Tipp-Ex-president” gedoop, met verwysing na die korrigeervloeistof wat die opposisie beweer, is gebruik om die verkiesingsuitslag te verander, wat aan hom ’n noue oorwinning en ’n tweede termyn besorg het.
Ongeveer 75% van Malawiërs is belydende Christene, insluitend die huidige opposisieleier Lazarus Chakwera (’n voormalige predikant) wat die verkiesingsuitslae betwis.
Bid asseblief saam met ons vir ’n vreedsame oplossing vir die krisis in Malawi.
“Veranderde mense verander nasies.” (Jared Brock)
Saam in Sy diens
Donnelly McCleland