5 September 2019
Liewe gebedsvriende
Op Sondag, 1 September, is missiele oor-en-weer gevuur langs die grens tussen Israel en Libanon, ná ’n week van spanning tussen dié twee lande. Hassan Nasrallah, die leier van Hisbolla in Libanon, het opnuut bevestig dat die groep op enige Israeliese hommeltuig-aanvalle sal reageer, maar het benadruk dat hulle nie wil hê dat die konflik moet vererger nie.
Israel se weermag het gesê dat hulle Sondag op Libanon gevuur het, nadat Hisbolla verskeie anti-tenk-missiele op hul weermagbasis en voertuie naby die grens, gevuur het. Hisbolla het gesê dat hulle op ’n vroeëre hommeltuig-aanval deur Israel, gereageer het.
Die eerste minister van Libanon, Saad Hariri het volgens berigte, ’n beroep op Amerika en Frankryk gedoen om te help om die spanning te ontlont. Nóg Israel nóg Hisbolla stel daarin belang om hulle weer in ’n oorlog te begewe, ná die maand lange konflik in 2006 waarin ongeveer 1,200 mense in Libanon (meestal burgerlikes) dood is, asook ongeveer 160 Israeliese soldate.
Israel het ’n bevolking van ongeveer 8.5 miljoen mense, waarvan slegs 1.7% Christene is (meestal van Arabiese herkoms). Libanon het ’n bevolking van ongeveer 6.86 miljoen en hoewel daar sedert 1932 geen sensus geneem is nie (as gevolg van die sensitiewe balans tussen die land se godsdienstige groepe), reken Joshua Project dat 31.8% van die mense wat in Libanon woon, Christene is.
Bid asseblief saam met ons vir Libanon en Israel.
“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Romeine 12:21)
Saam in Sy diens
Gigi Kotzé en Donnelly McCleland