19 September 2019

Liewe gebedsvriende,

In die vroeë oggendure van Saterdag 14 September is Saoedi-Arabië se olieproduksie na bewering in die helfte gesny nadat twee groot olie-raffinaderye in Saoedi oënskynlik deur hommeltuig aanvalle aan die brand gesteek is. Geen ongevalle is aangemeld nie, maar die produksie-stilstand beloop ’n verlies van ongeveer vyf miljoen vate per dag of 5% van die wêreld se daaglikse produksie van ru-olie. Die impak is onmiddellik gevoel toe oliepryse die hoogste vlak in ses maande bereik het.

Die aanvalle het spanning tussen Amerika en Iran verhoog, aangesien die Amerikaanse minister van buitelandse sake Iran van die aanvalle beskuldig het en Iran die aantygings ontken het. Jemen se Houthi-rebellegroep (wat vermoedelik deur Iran ondersteun word in hul stryd teen Saoedi-Arabië), het aanspreeklikheid vir die aanval aanvaar en gesê dat hulle hommeltuie gebruik het om die olie-raffinaderye te laat ontvlam. Saoedi sowel as Amerikaanse amptenare het dié narratief in twyfel getrek en gesê dat bewyse daarop dui dat die aanval vanuit Iran geloods is. President Donald Trump het gesê Amerika is “locked and loaded” vir ’n moontlike reaksie op die aanval.

Volgens Joshua Project is Saoedi-Arabië die tuiste van ongeveer 34 miljoen mense, waarvan ongeveer 31 miljoen ‘onbereik’ is. Ondanks die feit dat daar ’n groot buitelandse gemeenskap van verskillende gelowe is (meer as 30% van die bevolking), is die meeste vorme van openbare geloofsuitdrukking wat strydig is met die regering se goedgekeurde interpretasie van Soenni-Islam, hewig beperk; nie-Moslems mag nie Saoedi-burgerskap hê nie en nie-Moslem plekke van aanbidding word nie toegelaat nie.

Bid asseblief saam met ons vir Saoedi-Arabië en die streek.

“Daar is dele van ons roeping, werke van die Heilige Gees en nederlae vir die duisternis wat op geen ander manier as deur driftige, vurige, geloofsgevulde, onophoudelike gebed sal kom nie.” (Beth Moore)

Saam in Sy diens

Gigi Kotzé en Donnelly McCleland