31 Oktober 2019

Liewe gebedsvriende

Op Sondag, 27 Oktober, het die president van Chili, Sebastian Piñera, al sy kabinetslede gevra om te bedank. Hy het hervormings belowe in ’n poging om beheer te herstel na ’n vlaag massa-betogings teen die maghebbers. Wat begin het met studente wat oor draaihekke spring as gevolg van ’n 3.7% prysverhoging in moltreintariewe, het uitgebrei tot massabetogings oor ’n verskeidenheid griewe. Dit het op Vrydag (25 Oktober) ’n hoogtepunt bereik, met massiewe protesoptrede van meer as ’n miljoen mense wat die strate van die hoofstad, Santiago, ingevaar het — die grootste betogings ooit in dié land, volgens verskeie geskiedkundiges.

Dit wil voorkom asof Chilene verenig is teen die hoë koste van onderwys en gesondheidsorg, lae pensioene, stilstaande lone en die hoë lewenskoste in een van die mees ongelyke lande in Latyns-Amerika. Dit blyk ook asof dit nie nét die ekonomiese swaarkry is wat hulle grief nie – daar is ’n oënskynlike gaping tussen Piñera, een van Chili se ryker entrepreneurs en die mense wat hy regeer. Meningspeilings dui aan dat die meerderheid Chilene van mening is dat Piñera se bestuur tot voordeel van die elite regeer, wat geminag word deels weens prysvasstelling, belastingontduiking en ander skandale.

Volgens ’n meningspeiling deur Latinobarometro in 2017, het Chili die tweede hoogste persentasie ateïste/agnostici in Latyns-Amerika (naas Uruguay), met 38 persent van die bevolking wat verklaar dat hulle geen godsdienstige oortuigings het nie. ’n Verdere 11 persent beskou hulself as evangelies of protestant, terwyl 45 persent van die bevolking as Katoliek identifiseer. Volgens ’n verslag deur die Pew Research Centre, sê slegs 27% Chilene dat godsdiens baie belangrik in hul lewens is.

Bid asseblief saam met ons vir Chili gedurende hierdie tye van onrus – dat die Kerk dié geleentheid sal aangryp om met die evangelie van hoop uit te reik.

“Dit is nie genoeg om jou slegs van ongeregtigheid te weerhou, ten einde regverdig te kan wees nie. Mens moet verder gaan en weier om onregverdigheid se spel te speel; mens moet eiebelang met liefde, as die dryfkrag van die samelewing, vervang.” (Pedro Arrupe)

Saam in Sy diens

Donnelly McCleland