14 November 2019

Liewe gebedsvriende

Die Wêreldvoedselprogram het op Vrydag 8 November gesê dat bykans ’n miljoen van die 11 miljoen mense in Suid-Soedan deur verwoestende oorstromings geraak is en dat hulle dringend lewensreddende hulp benodig. Die regering het ’n noodtoestand in Bahr el Ghazal-staat, die groter opper-Nyl en Ekwatoria verklaar. Hulle doen ’n beroep op wêreldmagte vir verhoogde internasionale steun om hulle te help om hierdie natuurramp, wat die ergste in jare is, te hanteer.

Tienduisende mense het hul huise verloor en bly in tydelike skuilings. Dorpe en kleiner gemeenskappe is totaal verswelg deur die stygende water, te midde van stygende kommer oor die moontlike uitbreek van siektes en hongersnood. Selfs vóór die onlangse oorstromings, was daar beraam dat 4.5 miljoen mense, tussen September en die einde van die jaar, nie sou weet waar hul volgende maaltyd vandaan sou kom nie. Daar word voorspel dat dié getal in die nuwe jaar met nóg ’n miljoen sal styg en selfs verder kan klim, vanweë die stortreëns. Hierdie verwoestende vloede vererger die reeds enorme uitdagings wat deur dekades van politieke onstabiliteit, armoede en aanhoudende voedselonsekerheid, veroorsaak is.

Bid asseblief saam met ons vir Suid-Soedan en dat daar ’n uitstorting van medelye van ander lande (en die wêreldwye Kerk) sal wees, sodat duisende lewens gered kan word.

“Liefde is die aktiewe, werkende beginsel van ware geloof. Dit is die hartklop daarvan, waarsonder dit dood is. Geloof werk deur liefde.” (Jonathan Edwards)

Saam in Sy diens,

Donnelly