8 November 2018

Liewe gebedsvriende

Honderde Egiptiese Christene het Saterdag 3 November ‘n begrafnisdiens in die Minya-provinsie bygewoon. Op 2 November is pelgrims wat met busse vervoer is na ‘n afgeleë woestynkerk in ‘n hinderlaag gelei en is deur Islamitiese Staat (IS) militantes vermoor. Minstens 19, wat kinders insluit is in Vrydag se aanval gewond en sewe is gedood.

Die Islamitiese Staat het herhaaldelik belowe om wraak te neem teenoor die Egiptiese Christene, as straf vir hul ondersteuning van president Abdel-Fattah el-Sisi. Mnr. Sisi het as minister van verdediging die weermag in 2013 gelei om van die Islamitiese president, Mohammed Morsi ontslae te raak, na die een jaar van heers wat net verdeeldheid veroorsaak het. IS het ook verantwoordelikheid aanvaar vir die reeks dodelike aanvalle op Christene wat al strek vanaf Desember 2016. In Mei 2017 is 29 mense in ‘n soortgelyke aanval naby dieselfde kerk dood. In die nadraai van Vrydag se aanval het mnr. Sisi belowe om die stryd teen terrorisme voort te sit. Volgens ‘n verklaring wat op Sondag 4 November uitgereik is, word berig dat die Egiptiese veiligheidsmagte 19 mense wat verband hou met Vrydag se dodelike aanval, doodgemaak.

In dié Moslem-dominante land maak die Egiptiese Kopte die meerderheid uit van die Christelike minderheid (sowat 10%), en het op soortgelyke wyse soos in die verlede op die aanval gereageer met woede en frustrasie, maar meestal vergifnis. “Ons wil vir hulle [die aanvallers] sê dat ons hulle nog steeds liefhet, ten spyte van wat gebeur het. Ons vra egter dié vraag, waarom doen julle dit aan ons? Ons is nie kwaadwillig teenoor enigiemand nie,” het Rad Noseer Mitri, priester van Mar Girgis Kerk, aan rouklaers gesê. Egipte se Koptiese Christene is vanjaar vir die Nobelprys vir Vrede oorweeg, weens hul versoenende houding teenoor hul aanvallers.

Bid asseblief saam met ons vir ons Egiptiese broers en susters in Christus, en vir die Egiptiese owerhede se reaksie op die aanvalle teen Christene.
“Ons gebede moet gedryf en nagestreef word met ‘n energie wat nooit moeg word nie, ‘n aanhoudendheid wat nie ontken sal word nie, en ‘n moed wat nooit misluk nie.” (E.M. Bounds)

Saam in Sy diens
Donnelly McCleland