23 November 2018

Liewe gebedsvriende

Honderde inwoners van die Mexikaanse grensstad, Tijuana het Sondag 18 November aan ? betoging deelgeneem teen die aankoms van duisende migrante vanuit Sentraal-Amerika, wat hoop om ‘n nuwe lewe in die VSA te begin. Dié migrantetrek, wat na die Verenigde State op pad is, het Donderdag (15 November) by die grens tussen die VSA en Mexiko byeen gekom, nadat hulle vir meer as ‘n maand op reis was. Dit, ten spyte van president Donald Trump se ontplooiing van duisende Amerikaanse troepe naby dié grens.

Die massatrek wat uit sowat 5500 migrante bestaan, was die afgelope paar dae in Tijuana verwag, danksy busse wat gereël is deur liefdadigheidsorganisasies, privaatskenkers en plaaslike owerhede. Hierdie migrante vlug meestal vanaf armoede en onrus in Sentraal-Amerika se “Noord-Driehoek” van El Salvador, Guatemala en Honduras, waar wrede bendegeweld die oorsaak is vir van die hoogste moordsyfers ter wêreld.

Die inwoners van Tijuana wat teen hierdie binnedringing betoog, beskuldig die migrante dat hulle morsig, ondankbaar en gevaarlik is. Hulle is ook bekommerd dat belastinggeld van Mexiko gebruik gaan word om vir dié groep te sorg, terwyl hulle wag om aansoek om asiel in die VSA te doen. Inwoners in ander dele van Mexiko, met ‘n paar uitsonderings, het die migrante verwelkom en vir hulle kos en verblyf aangebied tydens hul reis. Die migrante het egter gesê hulle is verbaas deur die vyandige houding teenoor hulle in Tijuana, terwyl die Mexikaanse minister van binnelandse sake, Alfonso Navarrete, Mexikane aanmoedig om nie die migrante te ‘kriminaliseer’ nie. Kenners waarsku ook dat Tijuana oor beperkte kapasiteit beskik om so ‘n groot groep migrante te akkommodeer.

Ingevolge ‘n uitvoerende bevel wat verlede week deur mnr. Trump uitgereik is, sal migrante wat nie deur amptelike grensposte beweeg nie, nie meer om asiel mag aansoek doen nie en ook outomatiese deportasie in die gesig staar. Amptelike grensposte sal hulle ook waarskynlik net in klein hoeveelhede laat deurgaan. Volgens die VSA het die asielstelsel maksimum kapasiteit bereik nadat versoeke die afgelope vyf jaar met 2000 persent toegeneem het. Daar is tans 700,000 hangende sake.
Bid asseblief saam met ons vir Mexiko en sy burgers, sodat hulle maniere sal vind om die migrante op ? menslike wyse te hanteer.

“Migrante en vlugtelinge is nie pionne op die skaakbord van die mensdom nie.” (Pous Francis)

Saam in Sy diens
Donnelly McCleland