11 Januarie 2019

Liewe gebedsvriende

In die vroeë oggendure van Maandag 7 Januarie het junior militêre offisiere in Gaboen (in Sentraal-Afrika) ‘n oënskynlike staatsgreeppoging uitgevoer deur die staatsradiostasie te kaap en hul ontevredenheid met president Ali Bongo, wat sedert Oktober in Marokko herstel na ‘n beroerte, uitgespreek. Volgens ‘n regeringswoordvoerder is vrede vinnig herstel. Die offisiere beweer hulle het die mag probeer bekom om “demokrasie te herstel” in die olieryke Gaboen, waar die siek leier se familie reeds vir 50 jaar regeer. Die staatsgreeppoging dui op ‘n klaarblyklik toenemende ontevredenheid in ‘n nasie wat bekend was vir sy stabiliteit.

 

Volgens die Wêreldbank leef ‘n derde van die bevolking in armoede ten spyte van sy olierykdom. Mnr. Bongo is president sedert hy sy pa Omar, wat oorlede is in 2009, opgevolg het. Sy herverkiesing in 2016 het noodlottige gevegte tussen betogers en die polisie ontketen waartydens die parlement aan die brand gesteek is. Luitenant Obiang het verwys na die geweld in 2016 toe hy verklaar het dat die staatsgreep uitgevoer word teen “diegene wat op ‘n lafhartige manier ons jong landgenote vermoor het”.

President Trump het soldate na Gaboen ontplooi om Amerikaanse burgers te beskerm te midde van vrese van gewelddadige betogings in die naburige Demokratiese Republiek van die Kongo na afloop van die presidensiële verkiesing aan die einde van Desember.

Byna 80% van Gaboen se bevolking beskou hulself as Christene (meer as 40% Katoliek en ongeveer 13% Evangelies), hoewel baie hulle Christelike geloof met tradisionele (animistiese) oortuigings kombineer. Daar is ‘n klein persentasie mense wat Islam volg (ongeveer 6%). Die Grondwet maak voorsiening vir godsdiensvryheid en oor die algemeen respekteer die regering hierdie reg in die praktyk.

Bid asseblief saam met ons vir Gaboen.

Gebed – hoewel dit dikwels uitmergelend is, selfs ‘n kwelling – is dit op die langtermyn die grootste moontlike bron van krag.” (Timothy Keller)

Saam in Sy diens

Donnelly McCleland