25 Januarie 2019

Liewe gebedsvriende

Op Sondag 20 Januarie het die presidensiële woordvoerder, George Charamba, aan die staatsbeheerde Sunday Mail-koerant gesê dat die onlangse brutale onderdrukking in Zimbabwe ná betogings teen brandstofprysstygings “net ‘n voorsmakie was van dit wat kom.” Hierdie harde woorde het bygedra tot die toenemende kommer oor die agteruitgang in die menseregtesituasie in die land, ná ‘n week waarin die polisie en soldate burgerlikes geslaan het, 12 mense doodgeskiet en minstens 600 mense aangehou het, baie sonder aanklag.

Dit is die ergste geweld in Zimbabwe die afgelope dekade, wat daartoe lei dat baie dit vergelyk met die ergste dae in die 37-jaar lange regering van die outokratiese voormalige president Robert Mugabe. Zimbabwiese president Emmerson Mnangagwa, wat tans Sentraal-Asië, Rusland en Europa besoek, in ‘n poging om beleggings in sy land se kreupel ekonomie te verhoog, het gesê hy sal na Zimbabwe terugkeer in plaas daarvan om vandeesweek die Wêreld Ekonomiese Forum in Davos by te woon.

Die regering het die onrus “terrorisme” genoem en die opposisieparty, die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), geblameer. Mnr. Mnangagwa, ‘n stoere lid van die regerende Zanu-PF-party, het die mag bekom toe Mugabe in November 2017 in ‘n militêre oorname ontsetel is en het verlede jaar betwiste verkiesings gewen. Zimbabwiërs was vlugtig verheug toe mnr. Mnangagwa Mugabe opgevolg het, en het gedink die nuwe president sal sy verkiesingsbeloftes gestand doen om die land se ekonomie te laat herleef.

‘n Week gelede het mnr. Mnangagwa egter aangekondig dat die brandstofprys meer as gaan verdubbel (wat dit die duurste ter wêreld maak). Die prysstyging was daarop gemik om tekorte aan te spreek wat veroorsaak is deur toenemende brandstofverbruik en “wydverspreide” onwettige handel, het hy gesê. Maar baie Zimbabwiërs, afgemat deur jarelange swaarkry, het skielik gevind hulle kan nie eens ‘n buskaartjie bekostig om te gaan werk nie.

Bid asseblief saam met ons vir Zimbabwe in hierdie kritieke tyd.

“Ons het ‘n hartsverandering nodig in ons leierskap, of ons het ‘n verandering in leierskap nodig.” (Zimbabwiese Christen)

Saam in Sy diens

Donnelly McCleland