1 Februarie 2019

Liewe gebedsvriende

In ‘n onderhoud op Sondag 27 Januarie het Venezuela se beleërde president, Nicolas Maduro, ‘n internasionale ultimatum om binne agt dae verkiesings te skeduleer, verwerp en gesê die opposisie leier Juan Guaido het die land se grondwet oortree deur homself op 23 Januarie as leier te verklaar. Hy het egter gesê dat hy gesprekke sal verwelkom. Die Verenigde State, wat Guaido as leier erken het, het Saterdag [26 Januarie] die wêreld aangemoedig om “kant te kies” oor Venezuela en hulle van mnr. Maduro se regering te distansieer.

Sedert die ontdekking van olie in Venezuela in 1922, is daar internasionale belangstelling in die land en word daar druk op sy regering geplaas. Hierdie druk het aansienlik toegeneem aangesien daar bewys is dat dit die wêreld se grootste olie-reserwes huisves. In 2015 is bepaal dat die sosialistiese regering van Venezuela Amerika se nasionale veiligheid bedreig en ekonomiese sanksies is geïmplementeer. Hierdie sanksies het die aanbod van voedsel, medisyne en verbruikersgoedere in die land beïnvloed. Die sanksies het ook olie-inkomste gesmoor. Mnr. De Zayas, ‘n voormalige sekretaris van die VN se Menseregte Raad en ‘n internasionale regsverteenwoordiger, het in September 2018 ‘n verslag voorgelê waarin hy die VSA kritiseer dat hulle betrokke raak by “ekonomiese oorlogvoering” teen Venezuela wat hy sê dat dit die ekonomie seermaak en Venezolane doodmaak. Op sy feitesending na die land aan die einde van 2017 het hy bevind dat interne oordrewe afhanklikheid van olie, swak bestuur en korrupsie die Venezolaanse ekonomie hard geraak het, maar het gesê dat die “ekonomiese oorlogvoering” wat deur die VSA, EU en Kanada beoefen word, belangrike faktore in die ekonomiese krisis is.

Rusland, China, Turkye, Suid-Afrika en ander nasies het hul steun aan die gevestigde leier uitgespreek. “Suid-Afrika se posisie is dat ons die behoorlik, demokraties verkose president van Venezuela erken tot tyd en wyl hy die tuig neerlê of daar ‘n verkiesing is,” het Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, gesê. Dmitri Peskov, woordvoerder van die Kremlin, het gesê: “Ons beskou die poging om die mag in Venezuela oor te neem as … ‘n oortreding van die fondasies van internasionale reg. Mnr. Maduro is die wettige staatshoof.”

Bid asseblief saam met ons vir Venezuela vir ‘n diplomatieke oplossing vir die krisis en dat geweld en militêre konfrontasie afgeweer sal word.

“Ware gebed is eerstens die besef dat gebed ‘n dringende ‘plig’ is. Tweedens, is dit die besef dat ware gebed alles anders roekeloos en summier wegstoot om doelbewus op daardie feit te reageer.” (Craig D. Lounsbrough)

Saam in Sy diens

Donnelly McCleland