19 Oktober 2018
Liewe gebedsvriende
Op 16 Oktober is Wêreldvoedseldag gevier, maar daar was geen sulke vieringe in Jemen nie. VN-verteenwoordiger Lise Grande, waarsku dat indien die oorlog in Jemen nie binnekort beëindig word nie, die land binne drie maande in ondenkbare hongersnood gedompel kan word. Sy beklemtoon verder dat 12 tot 13 miljoen landsburgers nou die moontlikheid van dood in die gesig staar weens die dreigende hongersnood. “Ons behoort skaam te kry en elke dag wanneer ons wakker word moet ons ‘n nuwe verbintenis maak om alles in ons vermoë te doen om die mense te help wat weens dié oorlog lei”, sê Grande.
Humanitêre agentskappe is dit eens dat die mense van Jemen alleen gered kan word indien die oorlog in die land beëindig word. Die Saoedi-geleide koalisie word beskuldig van die dood van die talle onskuldige mense wat in hierdie konflik omgekom het, asook die blokkade wat die direkte oorsaak van die dreigende humanitêre katasrofe is (siende dat Jemen baie afhanklik is van die invoer van voedsel).
Die Suid-Afrikaanse regering het bevestig dat Suid-Afrika as bemiddelaar gaan optree tussen Saoedi-Arabië en Iran wat tans in Jemen in die oorlog gewikkel is. Daar is egter ook berigte dat verdedigings maatskappye in Suid-Afrika binnekort wapens aan Saoedi-Arabië gaan verkoop wat moontlik in die oorlog gebruik gaan word. Lindiwe Sisulu, Suid-Afrikaanse minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het hierdie berigte bevestig en ook erken dat Saoedi-Arabië die Suid-Afrikaanse staatswapenvervaardiger, Denel, genader het om in te koop in hierdie sukkelende vervaardiger. Sisulu het op 11 Oktober tydens ‘n perskonferensie gesê dat die Saoedi-bod om ‘n belang in Denel te koop deur die Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee (NCACC) gekontroleer word en dat die NCACC die mandaat het om toe te sien dat Suid-Afrika nie wapens aan lande verkoop wat dit moontlik kan gebruik om menseregte te skend nie.
Op ‘n beroep van Human Rights Watch het Duitsland, Noorweë en België toegestem om wapenverkope aan Saoedi-Arabië te beëindig. Mag Suid-Afrika ‘n soortgelyke dapper besluit neem om nie ‘n deelgenoot van die oorlog in Jemen te word nie.
Bid asseblief saam met ons vir die landsburgers van Jemen, sodat daar ‘n einde kan kom aan die oorlog, vir voedselverligting en om die miljoene wat deur die oorlog geraak word, te bereik met die Evangelie.
“Ek het altyd gebid dat God dié wat honger is sal voed, maar nou bid ek dat Hy my sal lei sodat ek alles sal doen wat ek veronderstel is om te doen. Ek het altyd vir antwoorde gebid, maar nou bid ek dat Hy my krag sal gee om te doen wat ek moet. Ek het altyd gedink dat gebed dinge verander, maar nou weet ek dat gebed ons verander sodat ons weer die verandering in plekke waarvoor ons bid, kan bring.” (Moeder Teresa)
Saam in Sy diens.
Donnelly McCleland