28 September 2018

Liewe gebedsvriende
Die oorloggeteisterde Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) gaan ‘n broodnodige hulppakket van die Europese Unie (EU) ontvang. Die EU het aangekondig dat €26,5 miljoen as noodfonds beskikbaar gestel word vir kwesbare gemeenskappe wat deur die humanitêre krisis in die land geraak word. Hierdie aankondiging is gemaak, te midde van onthullings van nog ‘n menseslagting van burgerlikes vroeër die maand. Daar word nou gevrees dat hordes mense aangeval en vermoor is, vermoedelik deur ? Islamitiese rebellegroep in die sentrale dorpie Bria.
Gewelddadige konflik tussen rebellegroepe woed al jare in die land. Die SAR is in 2013 in onrus gedompel toe Moslem-rebelle van die Seleka-groep mag oorgeneem het in dié hoofsaaklik Christen meerderheid land. ? Faksie, saamgestel uit meestal Christelike nie-regerings soldate wat bekendstaan as die “anti-balaka” is op die been gebring om teen die Seleka groep op te tree. Kiesers het tydens die 2016 verkiesing wel vir ? formele regering gestem, maar dié regering se mag en gesag strek nie wyer as die hoofstad, Bangui nie. Die land het toenemend al hoe meer godsdienstig en demografies verdeeld geword. Daar is ongeveer 14 gewapende rebellegroepe tans aktief in die land.
Bid asseblief saam met ons vir ‘n politieke deurbraak teen die ongenaakbare geweld wat hierdie brandarm land verwoes
“God gee ons nooit onderskeiding sodat ons kan kritiseer nie, maar dat ons tussenbeide kan tree.” (Oswald Chambers)

Saam in Sy diens
Donnelly McCleland