3 Augustus 2018

Liewe gebedsvriende,

Daar het amper ‘n duisend Siriese vlugtelinge teruggekeer na hul tuisland op 28 Julie vanaf die buurstaat Libanon. Hierdie uittog volg op honderde wat dieselfde roete gevolg het vroeër in die week en is ook die vierde ronde vlugtelinge wat binne die laaste maand terugkeer na Sirië. Sedert die begin van 2018 het sowat 13,000 Siriese vlugtelinge na Sirië teruggekeer.

Meer as een miljoen Siriese vlugtelinge is geregistreer by die Hoë Kommissaris van die Verenigde Nasies vir Vlugtelinge (UNHCR) in Libanon. Die Libanese regering skat egter dat die ware aantal Siriërs in die land om en by 1.5 miljoen is. Die Russiese Ministerie van Verdediging en die Minister van Buitelandse Sake het die strategie vir die wettige terugkeer van Siriese vlugtelinge na hul tuisland saamgestel. Die strategie beoog om die terugkeer van sowat 890,000 vlugtelige na Sirië te verseker.

Veiligheid en sekuriteit in Sirië bly egter ‘n groot uitdaging. Die Siriese Arabiese Weermag beveilig geleidelik meer gebiede, maar in die laaste week was daar ‘n bloedige aanval deur die Islamitiese Staat (IS) gewees. Vier selfmoordbomaanvallers het Sweida in die suide van Sirië geteiken, terwyl ander dorpe in die omgewing ook aangeval is. Tientalle inwoners is vermoor en ‘n groep vrouens is ontvoer. ‘n Totaal van 246 mense het in hierdie aanvalle gesneuwel, waaronder 135 burgerlikes. Die terreurgroep het ‘n video vrygestel wat een van die gevangenes wys wat daarop aanspraak maak dat die Siriese Weermag die militêre veldtog in die Yarmouk-area moet staak en alle IS-gevangenes vrylaat in ruil vir die vrylating van die vrouens.

INcontext ondersteun steeds ‘n aantal Siriese pastore in Damaskus, Homs en aleppo, waar hulle hul gemeentes getrou lei, asook hoop en ondersteuning bied, veral aan diegene wat geleidelik vanuit buurlande terugkeer.

Bid saam met ons vir volgehoue vordering op die gebied van vrede en stabilteit in Sirië.

“Moenie net bid wanneer jy lus voel nie. Maak ‘n afspraak met God en hou dit.” (Corrie ten Boom)

Saam in Sy diens,   Donnelly McCleland