14 Junie 2018

Liewe gebedsvriende

Dosyne gewone Afgane stap honderde kilometers dwarsoor hul land, vanaf die Taliban-vesting Lashkar Gah na die hoofstad Kaboel, en eis dat daar ‘n einde moet kom aan die 17-jaar lange bloedvergieting in hul land. Hulle beoog om Kaboel (ongeveer 700km van Lashkar Gah) voor die einde van die Ramadan-vas vandeesweek te bereik, om ‘n lys van eise te oorhandig wat ten doel het om vrede regoor die land te fasiliteer en die oorlog te beëindig. Betogers stap met blou kop- en lyfbande wat verklaar: “Ons wil vrede hê.” Die groep versoek ook ‘n wapenstilstand – maar langer as die een wat Saterdag (9 Junie) voorgestel is deur die Afgaanse regering en die Taliban vir die Eid-vakansie wat volg op Ramadan – asook ‘n tydlyn vir die onttrekking van buitelandse troepe uit Afganistan.

Op 11 Mei het nog ‘n simbool van deursettingsvermoë en hoop na vore gekom in die vorm van Breshna Musazai, ‘n 28-jarige vrou wat ‘n baccalaureusgraad aan die Amerikaanse Universiteit in Kaboel verwerf het, twee jaar nadat sy deur Taliban-insurgente in Augustus 2016 geskiet is. Baie meisies en vroue moet steeds groot struikelblokke oorkom, veral in gebiede wat deur die opstandelinge beheer word. Breshna het gekies om in die oorlogsgeteisterde Afganistan te bly om haar opleiding te voltooi, ten spyte van die gevare en uitdagings waarvoor geleerde vroue in haar land te staan kom ??en beplan om ‘n meestersgraad in die regte of menseregte te behaal.

Bid asseblief saam met ons vir blywende vrede en vryheid in Afganistan.

“Wanneer ek vir vrede bid, bid ek nie net dat my land se vyande sal ophou om oorlog te begeer nie, maar bowenal dat my land sal ophou om die dinge te doen wat oorlog onvermydelik maak.” (Thomas Merton)

Saam in Sy diens

Lucilia Moleko en Donnelly McCleland