21 Mei 2020
Lidmate vra ons predikante hoe ons die grendeltyd as predikante ervaar. Die eerste opmerking wat ek wil maak, is dat mens nooit voorsien het dat so iets in jou leeftyd of bedieningstyd sou gebeur nie! Ons is na langer as 50 dae seker al meer gewoond aan dié lewenswyse, maar wie het ooit in jou wildste drome gedink jy sal dit beleef?
Indien iemand, sê verlede jaar, vir jou gesê het jy sal in 2020 nie eredienste kan lei nie, jy sal nie mense kan besoek nie en jy sal nie kan voortgaan met die bidure en Bybelstudies nie, sou jy dié persoon nie geglo het nie. En nou is ons daar! Voeg daarby die vreemde ervaring om ‘n kamera of ‘n selfoon in jou huis op te stel, die honde buite te sit, te sorg dat al die telefone af is en die voordeurklokkie ontkoppel word en dan gaan sit jy in ‘n stoel en preek vir die kamera! My kollegas sal met my saamstem dat dit ‘n geweldige vreemde ervaring is om op hierdie wyse die Woordverkondiging te doen – dit is net jy en die kamera en die stilte rondom jou!
Vreemd genoeg, as jy ‘n fout maak, stop jy, sit alles af en begin weer oor! Ek het gewonder hoekom ek dit doen, as ek in ‘n erediens struikel oor woorde, herstel ek en gaan ek tog net weer voort – ek begin nie van heel voor af nie! Helené van Moedergemeente het verlede week vir ons tydens ‘n zoom-vergadering gesê ons kan gerus meer natuurlik wees met ons opnames. Haar hondjie het glo begin blaf terwyl sy met ‘n boodskap besig was en sy het net gesê, “daar groet Milo nou ook vir julle” en voortgegaan!
Ek het ook ander ervarings gehad wat ek selde voorheen in die bediening gehad het. Soos ‘n familielid van ‘n lidmaat wat my bel en vra of ek asseblief ‘n oproep na sy Ma in die hospitaal sal maak. Sy wil vreeslik graag die dominee se stem hoor. Hy het my die hospitaalsaal se telefoonnommer gegee. Ek skakel dié nommer, die suster antwoord en sê sy neem die telefoon na die pasiënt. Ander kere sou jy in jou motor geklim en hospitaal toe gery het. Nog ‘n geval: ek bel lidmate om te hoor hoe dit met hulle gaan, ek is bewus dat dit nie goed met die vrou se gesondheid gaan nie. Nadat ek met die man gesels het, het ek hom gevra om my beste wense vir sy vrou oor te dra en vir haar te verseker van my gebede. Toe vra hy vir my “Sal dominee nie asseblief vir haar ‘n gebed doen nie? Ek neem die selfoon na haar in die kamer en sal vir haar sê dominee gaan vir haar ‘n gebed doen”. Toe bid ek vir hierdie lidmaat oor die telefoon! Ek sit in my huis in Uiterwykstraat en doen ‘n gebed vir ‘n lidmaat in Othello!
As julle gewonder het, ons drie leraars mis ook mekaar. Ons het weekliks vergaderings gehou rondom ‘n lekker koppie koffie. Nou sit ons maar op ons eie! Gelukkig het ons ook nou geleer om te zoom en kon al ‘n paar keer zoom-vergaderings hou! Dan sien ons darem mekaar, gesels, hou vergadering en elkeen drink maar op sy eie, sy koppie koffie. Sterkte vir almal in hierdie tyd. Dit sal ook verbygaan en dan gaan ons vir mekaar vertel van lesse wat ons in dié tyd geleer het.
Johan Morkel