23 Julie 2020

Inperking vir Johan en Miemie Loubser

Ons het op 29 Junie 2006 in die Veritas-kompleks op die hoek van Buitekant- en Proteaweg ingetrek en onsself baie voorbarig by “die kerk met die Oop Deure” in Proteaweg gaan aanmeld, maar om een of ander rede – ons weet tot vandag toe nie wat dit was nie – was ons nie baie gelukkig in hierdie gemeente nie. Ons is steeds goeie vriende met almal.

Miemie se neef het toe vir ons gesê dat hy die Kuilsrivier De Eike-gemeente kan aanbeveel en van die begin af het ons werklik alles wat hul aangebied het, geniet.

Saam met ons het nog twee huisgesinne uit ons kompleks dadelik daarheen begin gaan.

Om nie te opvallend te wees nie, – so het ons gedink –  het ons die heel eerste Sondag-oggend gedurende 2007 baie vroeg by die kerk opgedaag. Ons was die heel eerste twee kerkgangers en ontmoet toe `n baie vriendelike man by die hoofdeur, wat ons later verneem het Oom Pietie moes wees. Hy het alles van ons probeer uitvind en ons het dadelik gevoel “dat ons toelating tot hierdie gemeente en die Hiernamaals deeglik op datum gebring is.”

Omdat ons toe reeds van die ouer gaarde was, het ons begin deur meesal net soggens die eredienste en op Dinsdae die Bybelstudies by te woon.

So het ons spoedig van die lidmate ontmoet en `n hegter vriendskap begin.

Stoffel en Alta le Roux, Bettie Marais, Hennie en Mattie van Geems, Lerina Venter en die Voights en al die mense in die banke rondom hulle, Coen de Milander, Calie en Anna van der Wath, Eric en Louisa Brand, Louis Hurter, Jan en Amanda Randewijk en ds Chris Barnardo,  ons wyks-dominee en vele ander het ons baie gou baie tuis laat voel.

Toe merk ons die Ouma wat baie gereeld met die baie soet kindertjies [meesal ses en by enkele geleenthede meer] by ons in die bank inskuif en dan haar arms beskermend om die heel kleintjies vou. Maar sy hou altyd plek vir iemand wat later moet kom en dan nadat die dominee op die kansel verskyn het, kom “hy” van die deur agter die preekstoel, groet eers heel stemmig `n een en `n elk en gaan by haar sit. Dit is dan wat een van die groter seuntjies van tussen die ander opstaan homself styf aan sy Oupa [soos ons vermoed het] se sy inwikkel.

Eers na daardie diens het ons uitgevind dat dit Kosie en Helene Steenkamp van die plaas Groenland in die Bottelary is wat hulle kleinkinders met hulle saam bring.

En vanaf daardie oggend is ons ook vriende.

Want ons geniet veral die baie hartlike – maar die binne perke groet – wanneer ons vir mekaar `n wuif gee wat welkom sê en `n wys van die duim – wat beduie dat dit goed gaan – voor die dominee met sy preek begin, asook die lekker gesels op die grasperk buite die kerk.

En vir ons wat self kinders het, asook kleinkinders met kleuters, was dit hier waar ons mekaar gevind het.

Sulke en nog meer oomblikke sal ons bybly om voor en gedurende die tyd van inperking te troetel.

Maar nou dat dit Winter is – na meer as drie maande – en opstaan in die oggend baie moeilik geword het, weet beide van ons regtig nie of ons vinnig weer in die roetine van voor die inperking gaan kom nie, want ons geniet en verwelkom eerder die feit dat jy kan later lê en al die preke, opvoeding omtrent God se Woord en ander korrespondensie van die dominees, asook die kerkkantoor oor en oor kan lees.

`n Verdere feit is dat jy meer tyd gekry het om meer te kan eet en drink. Dit het meegebring dat van my beste klere nie meer pas nie en ek dikwels in my verskeidenheid sweetpakke ens. gesien word. Dit is volgens my oorle skoonouers nie juis betaamlik nie. Hulle het vir elke geleentheid `n stel klere en skoene gehad. Ek kan nog onthou hoe hy, my skoonvader, met manelpak na die kerkraads- en sinode-vergaderings gegaan het.

Gister hoor ek my liewe vrou sê vir haar beste vriendin: “Hierdie inperkingstyd het meegebring dat sy uitgevind het dat sy “al die tyd `n baie goeie man het.” ” Ek weet nie waar dit vandaan kom nie, want sy sê baie gereeld vir my: “Wat jy wil doen, kan jy mos self doen, jy het mos ook twee hande.” Daarna vat sy gewoonlik alles uit my hande en bring die finale produk plus `n drukkie en `n soen na my.

Die dag sal hopelik kom wanneer alles weer normaal sal wees – dan sal ons weer ons kant bring soos ons Hemelse Vader Sy kant al die jare van ons bestaan – vir ons –  gebring het.

Here help ons asseblief om dit moontlik te maak!

Dankie vir dominees, personeel en lidmate soos dié van die gemeente Kuilsrivier De Eike!