6 Augustus 2020

Klaagliedere van Jeremia

“Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra … [Klaagliedere 3:24-25]

Ek verstaan uit die Boek wat Jeremia geskryf het dat dit toe met hom en sy volk uiters sleg gegaan het, tog bly hy vasklou aan sy hoop op die Here. Hy spel ook die rede vir hierdie hardnekkige hoop uit: “Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut … [Klaagl. 3:21-23]

Hoop is volgens die woordeboek die wete dat jou verwagting nie teleur gestel sal word nie. En juis omdat hulle elke dag sien hoe hulle verwagtings wel teleurgestel word, het baie moderne mense van ons tyd hoop verloor.

Maar gelukkig is – ek wat op God hoop – nog nooit teleurgestel nie. Sy liefde en trou is elke môre nuut vir sy kinders. Ook swaarkry kan my nie op moedverloor se vlakte laat sit nie, want die mense van wie Jeremia praat, kry selfs reg om bly te wees oor swaarkry, want … swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het [Rom. 5:3-5]

Die koerante en die TV stem ons op die oomblik bra moedeloos.

Maar ek fokus, soos Jeremia, op God en bly hoop op Hom, want ek weet verseker dat dié dinge waarop ek hoop vir my, vir ons land, uiteindelik sal waar word.

Liewe Hemelse Vader, baie dankie dat ek met vrymoedigheid op U kan hoop, omdat ek weet dat U die mense wat hulle hoop op U vestig NOOIT teleurstel nie. Amen.